Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 18 Januarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 8: ’N NUWE BEGIN... SONDER DONKER GEHEIME

Deur Benescke Janse van Rensburg

In Italië is ’n man onlangs deur die polisie in hegtenis geneem nadat ’n drie jaar oue Kubaanse krokodil in sy huis se bad gevind is. As volwasse krokodil kan hierdie spesie tot bykans drie meter lank word.

Die eienaar het die krokodil glo in die land ingesmokkel toe dit steeds in die eier was. Hierna is dit in sy woonstel gebore. Wildkenners wat die reptiel uit die woonstel verwyder het, het gesê dit is goed dat hulle die dier betyds gevind het aangesien die Kubaanse krokodil as die wêreld se intelligentste, vinnigste en aggressiefste krokodil gereken word. Dit sou later dus veel moeiliker gewees het om die dier uit die woonstel te verwyder. Die eienaar is met £70,000 (meer as R700,000) beboet en kan dalk tot een jaar tronkstraf gevonnis word. 

In ons lewens kan donker geheime of onbelyde sondes met die krokodil-eier in Italië vergelyk word. Aanvanklik dink ons, net soos die eienaar, dat ons, ons dit vir die wêreld kan verberg. Die gevaar is egter wanneer die eier oopbreek en die krokodil begin groei omdat dit buite beheer vir ons kan raak.

Watter “krokodille” vertroetel jy in jou lewe? ’n Verslawing (aan kos, medikasie, dobbel, drank, dwelms)? Jou liefde vir skinderstories? Jou humeur of afbrekende woorde teenoor jou geliefdes? Die aandag wat jy van ’n persoon buite jou huwelik ontvang – of wat jy gee? Besef jy dat God alles sien?

Luister weer na die woorde in Job 11:11: “God ken skynheilige mense, Hy sien die sonde raak, sonder nader ondersoek.” En ook in Hebreërs 4:13: “Daar is niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.”

God wil jou help om van jou “krokodille” ontslae te raak omdat Hy weet watter skade dit aan jou lewe kan berokken. Wil jy Hom nie vra om jou deur sy Heilige Gees te versterk om met iemand daaroor te praat nie? Ek is seker jy wil nie later met ’n astronomiese boete, tronkstraf of ’n krokodil buite beheer in jou huis sit nie! Sterkte. 

Vader God, baie dankie dat ek niks vir U kan wegsteek nie omdat U my deur en deur ken. Help my asseblief om die krokodille in my lewe te identifiseer en vroegtydig uit te skakel voordat dit onbeheerbaar raak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien gerus ’n foto van die krokodil hier: http://web.orange.co.uk/article/quirkies/crocodile_in_bathtub

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 19 Januarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 17 Januarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.