Vers n dag - 27 Januarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 15: ’N NUWE BEGIN... MET VERTROUE DAT GOD ONS GEBEDE HOOR
Deur: Benescke Janse van Rensburg
[AGTERGROND: Dankie aan almal wat hulle getuienisse met ons deel. Jy kan steeds by
Koos: “In 2003 het ek by ’n maatskappy in Douglas gewerk. Ek moes elke oggend die stoorkamer vir die werkers oopsluit. Deel van my roetine was om eers voor die stoor te parkeer en dan later my voertuig weg te trek na my parkeerplek.
Een oggend kom my werkgewer en vra dat ek saam met hom na kliënte ry. My voertuig was steeds voor die stoorkamer geparkeer. Toe ons terugkeer wou ek my voertuig wegtrek, maar ontdek toe dat my sleutels uit my broeksak geval het!
Ons het oral waar ek was gesoek – sonder sukses. My spaarsleutels was by die huis, maar om sake te vererger was my huissleutel ook in my motor. Ek het desperaat tot God gebid en Hom gevra om my te wys waar my sleutel was.
Daardie aand toe ek gaan slaap, nadat ek by ’n klein venstertjie by my huis kon inklouter, het ek ’n droom gehad. In die droom het die dag se gebeure voor my afgespeel. Ek het gesien hoe ek werk toe ry, die stoor oopsluit en by my werkgewer in die motor klim. Toe ons vertrek, kon ek sien hoe my sleutel uit my broeksak gly, agter die bestuurder se sitplek inval en onder die matjie gaan lê.
Ek het my werkgewer die volgende dag met ’n breë glimlag ingewag. Hoewel hy eers my storie afgelag het, het ek sy voertuig oopgemaak, die sitplek vorentoe geskuif en die matjie weggevat. Meteens het ons na ons asems gesnak: My sleutel het, net soos in die droom, daar gelê! Ek het die Here gedank en besef dat ek net moet vra en glo en Hy sal voorsien!”
Frans: “In Desember 1992 het ek en my vyf jong seuns saam met my visvangfamilie langs die strand gestaan en hengel. My swaer en die ander manne het ’n klomp elwe uitgetrek, maar niks het aan my lyn gebyt nie. Dit was vir my baie sleg om te sien hoe my seuns rondom die ander hengelaars gedrom het terwyl ek niks gehad het om te wys nie.
Ek het ’n entjie weg op ’n rots gaan sit en vir God gevra om asseblief vir my ’n vis te stuur wat ek kon vang. Ons is later weg en ek het steeds niks gevang nie.
Die volgende oggend 04:00 het my swaer my wakker gemaak en gevra of ek saam met hulle wou gaan hengel. My eerste antwoord was ‘nee’. ’n Stem het egter by my opgekom en gesê dat ek dan vir ’n vis gevra het. Ek het twee van my seuns gaan wakker maak en ons het saam see toe vertrek.
My visstok was heel eerste uit die voertuig gelaai. Ek het aas aan die stok gesit en my lyn sowat 40 meter die see-in gegooi. Na 2 minute was daar ’n geweldige sterk pluk aan my lyn. My swaer het nader gestaan en gesê dis ’n haai en dat ek die lyn moet afsny. Ek het egter besluit om vas te hou. Die einde van die storie? Na sowat ’n uur se gesukkel het ek ’n massiewe Koningsvis van 28,5kg uitgetrek – terwyl my kinders die keer trots om mý gedrom het! Ek glo die Here is altyd by ons. As jy Hom iets vra, gee hy met oorvloed!”
Koos en Frans is reg. Niks wat ons vir God kan vra is ooit vir Hom te groot of te klein om aan aandag te gee nie. In Mattheus 7:7-11 lees ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word… Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”
Gaan gerus na God en gesels met Hom oor jou uitdaging. Hy stel belang – al vra jy ook vir motorsleutels of ’n vis. Sterkte!
Vader God, baie dankie dat U betrokke is my my lewe. Maak my asseblief bewus van u teenwoordigheid elke dag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.