Carina Francke 

“Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Matteus 1:21, 1983-vertaling
 
’n Engel verskyn in 'n droom aan Josef, Maria se verloofde en stel hom gerus dat dit wat in haar verwek is, van die Heilige Gees kom. Hy moenie bang wees om met haar te trou nie. Die boodskap is: “Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sonde sal verlos.”(Matteus 1:21) Die verband tussen die naam Jesus en die Hebreeuse woord vir verlos, is “die Here red.” Ja, Jesus die Redder, het gekom om die mens van die mag en straf van sonde te verlos. Die eienaam Jesus” beskryf wat Hy op aarde kom doen het – Hy red verlore mense!
 
Met hierdie aankondiging word die profetiese woord vervul wat die Here bykans 700 jaar tevore deur die profeet Jesaja gespreek het, naamlik dat 'n maagd sal swanger word en geboorte aan 'n seun gee wat Immanuel genoem sal word.
 
Nee, dit is nie nog 'n eienaam nie, maar 'n beskrywing wie Jesus is: “God met ons.Met Jesus se koms aarde toe, is Hy die verpersoonliking van God, wat in mensegestalte regtig “by ons” gekom het. (Bybellenium, p60) Anders gestel, “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik.” (Kolossense 2:9)
 
Hierdie waar-word vernietig ook die spookgedagtes en vrees wanneer ons alleen in ongemaklike situasies beland. Die wolk- of vuurkolom is nie meer nodig om ons veilig te laat voel nie, want Jesus het gekom. Hy is die beloofde Immanuel, God met Ons! In Ons! Vir ewig.
 
Dalk is jy nou verward oor die woorde Immanuel, “God met ons.” Wie is Hy? Johannes 1:1-2 skyn lig hierop: “In die begin was die Woord (Logos) daar, en die Woord (Logos) was by God, en die Woord (Logos) was self God. Hy was reeds in die begin by God.” En dan volg die crescendo van hierdie goddelike waarheid in vers 14a: “Die Woord (Logos) het mens geword en onder ons kom woon." Hoor jy? Hy het by die mens “kom huismaak.” Hy was sigbaar in die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van God het, vol genade en waarheid.” (Johannes 1:14b)
 
Hoe raak Immanuel, “God met ons” jou? Kolossense 2:9 sê: “In Hom (Christus) is die volle wese van God beliggaam,” en nou, spesiaal vir jou wat hier lees, “..en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid.” (Kolossense 2:10). Wat 'n asembenemde, Goddelike voorreg!
 
Weliswaar is Jesus na die hemelvaart nie meer fisies by ons teenwoordig nie, maar die Heilige Gees wat Hy gestuur het, maak die Vader en die Seun kragtig teenwoordig in elke gelowige se lewe. (Johannes 14:16-17).
 
Gebed: Hemelse Vader, U selfvernedering tot mens word, om ons te verhef tot deelgenote in U volheid, oorskry my verstaan. Ek sê: Dankie! Prys Immanuel, God met ons! Amen