Carina Francke 

“Jy sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Lukas1:31-33, 1983-vertaling
 
Die engel se aankondiging aan die begenadigde meisie Maria, is kristalhelder. Sy gaan swanger word met 'n Seun – die Heilige Gees sal oor haar kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in haar wek. Hy sal Seun van God genoem word. Elke besonderheid is reeds in plek – sy geslag, herkoms, naam, status en erfporsie.
 
Uit die aard van wie Hy is (God Self), kan ons Hom net deur sy name na waarde skat. Vir hierdie dagstuk beperk ons dit tot die volgende name. Jesus, die Verlosser van sonde vir sy volk. (Matteus 1:21) Hy sal groot wees en ook genoem word: Seun van die Allerhoogste. Sy moeder sal Hom egter Immanuel (God is by ons) noem, soos deur profeet Jesaja geprofeteer (Jesaja 7:14)
 
Maar nog is dit het einde niet! 'n Engel bring die nuus aan skaapwagters in die veld dat die Verlosser, Christus die Here gebore is. 'n Skare engele doen mee aan die lofprysing wat die skaapwagters aan God bring oor hierdie goeie nuus. (Lukas 2:8-20)
 
Wyse manne uit die Ooste wat op die verskyning van 'n ster reageer het, kom soek in Jerusalem na die Koning van die Jodeom hulde aan Hom te bring vir wie Hy is. Hulle geskenke van goud, wierook en mirre is geskenke wat 'n Koning toekom. (Matteus 2:1-12)
 
Sien jy wat gebeur het? Die Allerhoogste God strek sy hand uit na die aarde om sy reddingsplan vir die wêreld in beweging te bring. Hy neem inisiatief en koepel sy genadehande oor gebroke en sondige mense. Sy enigste Seun Jesus, die Redder (Verlosser), betree die wêreld as mens om in sy leeftyd elke spatsel sonde, asook om die smart van die ewige dood, te vertrap tot stof.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ons nie aan vals en onwerklike drome vas hoef te klou nie. U is die Ja en die Amen oor die ewigheid van Jesus Christus ons Redder, ons Verlosser. Amen