Carina Francke 

“Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal Hom Immanuel noem.” Jesaja 7:14, 1983-vertaling
 
Het jy jou al stoksielalleen op 'n vreemde plek in 'n bedreigende of ongemaklike situasie bevind? Dan weet jy hoe 'n mens se spoedvraat verbeelding jou in die allervreeslikste situasies kan indink. Jy hoor geluide, sien skaduwees, hoor voetstappe eggo. Dan wens jy vir iemand by jou. Iemand wat kan help! So iemand is God en veel later, die Messias.
 
God ken die mens, daarom loop die tema “met jou” of “by julle” geil in die Woord. Dink maar aan die Israeliete in die woestyn – God is met hulle as die wolk- en vuurkolom in die woestyn; beskermend teenwoordig by Dawid (Psalm 6-7). Sy teenwoordigheid as die EK IS, was die sigbaarste wanneer 'n wolk die tempel en tabernakel gevul het. Dan het die volk geweet: die magtige teenwoordigheid van die Here vul nou die tabernakel (Eksodus 40:34-35) en tempel. (1 Konings 8:10-11) Vandag kyk ons terug. Jesus, die Seun van God het sy Godheid verruil om as mens by en onder ons te kom woon. Die Immanuel, God met ons! Elke uur van elke dag, van elke jaar!
 
In Jesaja 7:14 sien die profeet Jesaja, die maagdelike geboorte van die Messias ongeveer sewe eeue vooruit. 'n Dreigende oorlog wat tot grondverdeling kan lei, staan voor koning Agas van Juda en sy mense. Agas wil aansluit by 'n koalisie om die inval te verhoed, maar by monde van Jesaja, die profeet, stel God koning Agas gerus: sy vrees is ongegrond, want hierdie vyand sal binnekort nie meer 'n volk wees nie. Dit waarborg God self.
 
Dink jy die koning het sy ore hiervoor gespits? Nee, eiewys soos die mens maar is, glo Agas dit nie. Hy wys selfs God se uitnodiging van die hand om enige teken te vra as bewys dat die inval nie sal plaasvind nie! (Jesaja 7:10-12) Hierop reageer die profeet Jesaja met 'n toekoms-woord: “Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal Hom Immanuel noem.” (Jesaja 7:14) Immanuel beteken “God by ons.”
 
As die hoorders van hierdie toekomswoord tog net 700 jaar later vooruit kon sien dat hierdie woord tot die letter in Jesus vervul is! Die vraag is nou: ”Glo jy dat Immanuel, “God by ons” is? Dat Hy deur die Heilige Gees in ons woon?"
 
Gebed: Ons Vader, dankie dat alles wat U sê in waarheid gegiet is. Dankie dat Jesus in die vlees gekom het om “God by mense” te wees en vir ons 'n pad na die ewige lewe te baan. Dankie dat U steeds by nietige mense kom “tent opslaan” deur die Heilige Gees wat in ons woon. Amen.