Ben Fourie 

“Jesus het vir hom gesê: ‘As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.’ Toe die jong man egter hierdie antwoord hoor, het hy bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.” Matteus 19:21-22, 2020-vertaling
 
'n Mens wil so graag hoor dat dit met elkeen wat vir Jesus ontmoet het goed gegaan het, maar sommige ontmoetings het nie so 'n goeie afloop gehad nie. 'n Ontmoeting met Hom vra 'n besliste keuse, vir Hom of weg van Hom af en die jongman gaan bedroef weg omdat hy nie vir Jesus kon kies nie.
 
Die besondere jongman se ontmoeting met Jesus spring sommer op die verkeerde voet weg. Hy sien Jesus as 'n Rabbi of leermeester en vra daarom “Meester, watter goeie ding moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan verkry?” Wanneer 'n mens Jesus ontmoet, gaan dit egter nie om wat ek kan doen nie, maar wat Hy kan doen.
 
Jesus gee vir hom die antwoord wat vir 'n godsdienstige Jood aanvaarbaar sou wees, naamlik dat jy die gebooie moet nakom en op 'n verdere vraag gee Jesus 'n samevatting van die Tien Gebooie. Vir die jongman was dit bekende terrein, want hy het streng volgens die wet gelewe en volgens die Joodse geloof was onderhouding van die wet al wat jy nodig gehad het om die ewige lewe te verkry. Waarskynlik het hy egter iewers van die nuwe boodskap wat Jesus verkondig het, gehoor. Nou kom maak hy seker.
 
Die jongman is redelik seker van sy saak dat hy al die gebooie goed nagekom het, maar vra tog of Jesus dink daar kom nog iets kort. Ja, is Jesus se antwoord, jy kom beslis nog iets kort. Dit is nie dat jy te min het nie, inteendeel, jy het gans te veel en jy sal daarvan ontslae moet raak as jy My wil volg. Jesus het dit nie teen sy besittings nie, maar het geweet dat dit die struikelblok sou wees op die pad saam met Hom en so is dit dan ook.
 
'n Ontmoeting met Jesus beteken nie ons moet almal soos armlastiges gaan lewe nie, maar dit beteken wel dat niks tussen my en Hom mag staan nie.
 
Gebed: Liewe Here ons is almal iewers aan iets of iemand verknog. Help my om raak te sien as iets of iemand so belangrik raak dat U verdring word, anders gaan ek dalk ook eendag bedroef weg. Amen