Ben Fourie 

“Terwyl hulle op reis was, het hulle by 'n sekere dorpie gekom waar 'n vrou met die naam Martha Hom as gas ontvang het. Sy het 'n suster met die naam Maria gehad, wat by die Here se voete gaan sit het om na sy woorde te luister.” Lukas 10:38-39, 2020-vertaling
 
Telkens wanneer ek vanaf Tarkastad na Queenstown ry, sien ek net so 'n entjie buite die dorp die twee klipkoppies wat Martha en Maria heet en wonder wie hulle so genoem het en hoekom hulle die name van die twee susters uit die Bybel gekry het. Die koppies lyk na mekaar, maar is tog ook nie heeltemal dieselfde nie. So ook die twee susters wat elkeen 'n ander siening oor Jesus gehad het.
 
Maria het geglo dat sy elke geleentheid moet aangryp om te hoor wat Jesus sê en daarom het sy by sy voete gaan sit om te luister na al sy woorde. Martha, sê ons vers van die dag, was die een wat vir Jesus as gas aan huis ontvang het en as 'n goeie gasvrou het sy natuurlik bontgestaan om al die voorbereidings te tref sodat alles vlot sou verloop tydens Jesus se besoek.
 
Tot hier toe loop alles nog reg, maar dan kla Martha omdat sy alleen moet regstaan vir alles, terwyl Maria lekker kan sit en na die Meester luister. Wanneer Jesus haar dan 'n bietjie teregwys, moet ons mooi luister na hoe hy praat. “Martha, Martha” sê Hy en in hierdie dubbele gebruik van haar naam sien ons Jesus se toegeneentheid tot haar. Martha, ek veroordeel jou nie, dit is lekker om 'n gas in jou skoon huis te wees en jou lekker kos te eet, maar los nou maar vir Maria dat sy dit wat vir haar baie belangrik is kan geniet.
 
Ons het elkeen ook ons eie persoonlikheid en ons ervaar Jesus elkeen ook op 'n unieke manier. My manier is nie beter as joune nie en joune is nie beter as myne nie. Die belangrikste is dat ons mekaar se verskillende siening en ervaring van Jesus respekteer en op die manier die wet van die liefde uitleef.
 
Gebed: Dankie dat ek U ook mag ervaar op my manier. Help my dat ek nie veroordelend staan teenoor iemand wat U anders ervaar en U anders aanbid as wat ek dit doen nie. Amen