Ben Fourie 

“Uitgeput van die reis, het Jesus net daar by die fontein gaan sit. Dit was ongeveer die sesde uur. Daar kom toe 'n vrou uit Samaria om water te skep, en Jesus sê vir haar : ‘gee vir My water om te drink’”. Johannes 4:6b-7, 2020-vertaling
 
Die Een wat in besit is van die lewende water gebruik sy dors na doodgewone water as 'n aanknopingspunt tot 'n gesprek met 'n vrou wat nog nie van die lewende water gedrink het nie. In gister se vers-'n-dag het ons gekyk na 'n ontmoeting tussen Jesus en 'n nie-Joodse vrou. Vandag se ontmoeting is weer met 'n vrou, maar hierdie een is nie net 'n nie-Jood nie, sy is boonop nog 'n Samaritaan.
 
Om presies te verstaan hoe buitengewoon die ontmoeting was, moet ons 'n oomblik kyk na wie die Samaritane was. Na die dood van Salomo het die Tienstammeryk van Israel weggebreek van die twee stamme van Juda. Israel is later in ballingskap weggevoer en het as volk ophou bestaan.
 
Die Samaritane het waarskynlik uit oorblyfsels van die groep en met toevoeging uit heidense nasies ontstaan. Hulle het hulle eie hoofstad, Samaria, gebou (vandag geleë in wat as die Wesoewer bekend staan) en 'n godsdiens wat aan die van Juda verwant was, beoefen.  Alhoewel dus gedeeltelik van dieselfde bloedlyn as die Jode, is hulle deur die Jode verag, veral omdat hulle nie meer suiwer Joods was nie en nie die suiwer Joodse godsdiens gehandhaaf het nie.
 
Wanneer Jesus egter mense wil ontmoet, steur hy hom nie aan wat die gangbare norm vir sy tyd was nie. Hy sien nie 'n veragte mens uit 'n veragte volk nie, maar 'n mens wat die lewende water wat Hy kan gee, benodig. Sy ontmoeting met haar verander nie net haar lewe nie, maar ook die van die hele dorpie. Hulle het daarop aandring dat Hy twee dae lank by hulle moet oorgebly en in die tyd sê vers 41 “Nog baie meer van hulle het op grond van sy woorde tot geloof gekom.” Met een ontmoeting breek Jesus deur die skanse van 'n vrou wat as “sondig” geklassifiseer sou wees omdat sy al 'n string mans gehad het en nou ongetroud met nog een gelewe het. Meer nog, Hy breek ook deur die vooroordele wat daar teenoor die Samaritane bestaan het.
 
Gebed: Liewe Vader help my om nooit veroordelend na ander te kyk nie. Help my om ook vir ander te vertel van die ware bron van lewende water, Jesus Christus. Amen