Xanthe Hancox 

Die Gees van die HERE het op hom gerus en hy het Israel gerig. Hy het uitgetrek om oorlog te voer, en die HERE het vir Kusan-Risatajim, die koning van Aram, in sy hand gegee, sodat hy die oorhand oor Kusan-Risatajim gekry het. Daarna het die land veertig jaar lank rus gehad. Toe het Otniël, seun van Kenas, gesterf. Rigters 3:10-11, 2020-vertaling
 
In die boek Rigters lees ons die een ontstellende verhaal na die ander. Oor en oor sien ons 'n bose sirkel van Israel wat hulle in die beloofde land vestig en dan van geloof en gehoorsaamheid terugval na ontrouheid en ongehoorsaamheid. Dit gee dan weer aanleiding dat hulle deur die ander nasies verdruk word.
 
Dit is die toneel wat hierdie gedeeltes in Rigters vir ons skets. Na die dood van Josua wat die volk van Israel die beloofde land ingelei het, vertel die skrywer ons: “Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Here hulle God vergeet en die Baäls en asjeras gedien.” (Rigters 3:7) Hierdie was die afgode van hulle buurstamme.
 
Otniël, wat deur God geroep is, was van die stam van Juda (Josua 15:13-17), en moet sekerlik as 'n voorbeeldige rigter gesien word. Die skrywer sê niks negatief oor hom nie, en dit wil voorkom of hy volkome tot eer van die Here geleef het. Ons weet dit, alhoewel die teks ons nie baie besonderhede oor Otniël gee nie. Ons lees wel:"Die Gees van die Here het op hom gerus" en hy het 'n groot oorwinning behaal. (Rigters 3:10-11)
 
Baie van die ander rigters het hul eie roem nagejaag en ons lees in groot besonderhede oor hulle dade. Maar Otniël was so toegewy aan die Here dat dit klaarblyklik nie nodig was om in besonderhede oor sy dade uit te wei nie. Dit is genoeg vir ons om te weet dat God hom die oorwinning laat behaal het. Hy was skynbaar so getrou dat dit genoeg is vir ons om te weet dat die Gees van God hom bemagtig het. Ongelukkig was die rigters wat na Otniël gekom het nie so voorbeeldig nie.
 
Tydens die Pinksterfees het God sy Gees oor al sy kinders uitgestort, insluitende op jou en my. Ons moet ook ons stryd stry. Soms faal ons en soms behaal ons sukses. Hou egter vandag moed deur die krag van die Gees en vra God om jou te help in alles wat jy dink, sê en doen.
 
Gebed: Here, ons durf nie op ons self vertrou om die geestelike stryd te stry nie. Gee ons moed om te vertrou dat u krag in ons, ons sal help om ons daaglikse uitdagings te oorkom. In Jesus se Naam. Amen