Xanthe Hancox 

Die farao het toe sy hele volk beveel: “Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl gooi, maar al die dogters moet julle laat leef.” Eksodus 1:22, 2020-vertaling
 
Magtige mense soos die farao, is bekend daarvoor dat hulle bang is om hulle mag te verloor. Dit is hoekom die farao 'n onderdrukker en 'n slawedrywer geword het. Hy wou die aanwas van die Israeliete onderdruk sodat hulle nie teen hom in opstand sou kom nie. Daarom het hy beveel dat al die pasgebore babaseuntjies doodgemaak moes word.
 
Moses se geboorte was 'n daad van geloof. Sy ouers het die farao se opdrag verontagsaam: "Deur geloof is Moses, toe hy gebore is, drie maande lank deur sy ouers weggesteek, omdat hulle gesien het dat die kindjie mooi was, en hulle nie vir die koning se bevel bang was nie." (Hebreërs 11:23)
 
'n Mens wonder hoekom hulle enigsins die seuntjie weggesteek het as hulle nie bang was nie. Hoekom het hulle hom nie net in die openbaar uitgeneem as hulle God vertrou het nie? Geloof beteken nie dat 'n mens nie jou verstand moet gebruik nie. Deur God te vertrou beteken nie dat ons roekeloos kanse moet vat nie. Hulle was nie vir die koning se bevel bang nie en het dit verontagsaam, maar hulle het sonder twyfel nie net vir die lewe van hulle seuntjie, maar ook vir hulle eie lewens gevrees. As farao se wagte hulle gevang het, sou hulle die hele gesin tereggestel het omdat hulle die koning se bevel verontagsaam het.
 
Geloof in God maak dat ons die wêreld anders beskou as ongelowiges en ook anders optree. Moses het dit by sy ouers geleer.
 
Dit beteken nie dat gelowiges soos Moses en sy ouers nooit bang is nie. Ons almal ken vrees. Maar soos ons geloof groei, verdwyn die vrees. Ons leer hoe om ons vrese te oorkom. Ons word nie langer deur ons vrese beheer nie, maar deur geloof.
 
Moses se ouers se keuse om hom weg te steek wat op geloof gebaseer was, het miskien tydelike lyding meegbring, maar ewige seëninge tot gevolg gehad. Hulle seun het opgegroei om die grootste leier in die Joodse geskiedenis te word. Hy het deur die inspirasie van die Heilige Gees die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf.
 
Ons mag dalk nooit weet hoeveel seëninge sal voorvloei uit ons keuse om God in geloof te gehoorsaam nie.
 
Gebed: Here, help ons om te vertrou dat ons altyd in u sorg is, en help ons om altyd keuses te maak wat u kinders sal help. Help ons om geregtigheid, eerder as luukshede of wêreldse sukses, te kies. In Jesus se Naam. Amen