Xanthe Hancox 

Toe Henog 65 jaar oud was, het hy Metusalag verwek. Nadat hy Metusalag verwek het, het Henog driehonderd jaar lank naby God geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Henog het altesaam 365 jaar lank geleef. Henog het naby God geleef, en hy was nie meer daar nie, want God het hom weggeneem. Genesis 5:21-24, 2020-vertaling
 
In Genesis 5 lees ons oor Adam se stamboom. Die geslagsregister volg 'n patroon: "het …geleef … en … het gesterf". Daar is egter een uitsondering, Henog.
 
In vergelyking met sy vader wat 962 jaar oud was toe hy gesterf het en sy seun wat 969 jaar oud geword het, het Henog slegs 365 jaar oud geword. Dit wil egter voorkom asof hy nie gesterf het nie. "Maar later was hy nie meer op die aarde nie, want God het hom weggeneem." (Genesis 5:24)
 
Hoe kan dit wees?
 
Die Bybel gee ons 'n idee. Ons lees dat "hy het God gedien, hy het naby God gelewe" (Henog het met God gewandel – 1933/53-vertaling). Die teks "hy het naby God gelewe" dui op 'n spesiale verhouding tussen God en Henog, met die gevolg dat Henog nie gesterf het nie. Nadat 'n mens gelees het hoe elke geslag gesterf het, is dit wonderlik om oor hierdie man te lees. Henog wat naby God gelewe het en toe weggeneem is om by God te wees.
 
Miskien wonder jy vandag hoe jy naby God kan leef. In Matteus 1 lees ons oor Jesus die beloofde Immanuel wat beteken "God met ons". Jesus oorbrug die skeiding tussen ons en God sodat ons nie net vandag naby Hom kan wees nie, maar, soos Henog, vir altyd. Dit is hoekom Jesus sê: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf;" (Johannes 11:25)
 
Gebed: Dankie Here, dat U ons roep om vandag naby U te leef en dankie dat U dit moontlik maak om deur geloof in Jesus vir ewig met God te wandel. In Jesus se Naam. Amen