Xanthe Hancox 

Hulle het 'n verbyganger, 'n sekere Simon van Sirene, wat van die platteland gekom het, die vader van Aleksander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra. Markus 15:21
 
Vandag se gedeelte vertel ons van Simon van Sirene, wat Jesus se kruis gedra het. Sy naam verskyn wel nie saam met die van Isak of Abel in die lys van geloofshelde nie, maar hy was een van die kleiner helde in die evangelieverhaal oor Jesus se lyding.
 
Simon, 'n man van Sirene in Noord-Afrika, was 'n verbyganger van die platteland onderweg na die stad toe die Romeine hom dwing om Jesus se kruis na Golgota te dra. Simon was heel moontlik reeds moeg, aangesien hy van die platteland na Jerusalem gereis het. Hy is egter gedwing om van koers te verander en weer uit die stad uit te gaan. Hoekom? Om 'n kruis te dra vir 'n man wat tot die verskriklikste dood deur kruisiging gevonnis is.
 
Ons het geen besonderhede oor daardie reis nie – of Jesus en Simon met mekaar gepraat het weet ons nie, maar dit wil tog voorkom of Simon se lewe verander het nadat hy daardie kruis gedra het. Hy word ook beskryf as "die vader van Aleksander en Rufus", besonderhede wat daarop dui dat die twee jongmanne bekend was in die gemeenskap wat eerste die boek van Markus gelees het. Het Simon en sy gesin volgelinge wan Jesus geword? Dit is moontlik want baie mense het gelowiges geword nadat Jesus uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het. (Sien ook Romeine 16:13)
 
Simon het letterlik gedoen wat God ons vra om figuurlik te doen: neem jou kruis op en volg Jesus.
 
Deur die kruis van Jesus op te neem beteken ook om hulp te aanvaar – 'n gawe wat ek nog moet bemeester! Hoe dikwels sukkel ons nie alleen onder die las van fisiese, geestelike en emosionele lyding nie.
 
Wat het Jesus gedoen toe Hy die kruis moes dra? Hy het hulp aanvaar. Kom ons plaas vandag ons vrees, trots, plig en hardkoppigheid eenkant en aanvaar hulp. Kom ons help vandag iemand om hulle kruis te dra of aanvaar iemand se hulp om ons eie kruis te kan dra.
 
Gebed: Hemelse Vader, laat ons U dien deur die kruis wat U ons gee, te dra. Help ons om mekaar se laste te dra, en help ons om hulp van ander te aanvaar. In Jesus se Naam, bid ons dit. Amen