Xanthe Hancox 

Deur geloof het Abel 'n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf. Hebreërs 11:4, 2020-vertaling
 
Die storie van die twee broers, Kain en Abel, is baie bekend. (Genesis 4:1-16) Dit is die storie van twee broers met dieselfde ouers, wat op dieselfde manier grootgemaak is. Beide is geleer om God te aanbid en om vir Hom offers te bring. Beide het 'n suksesvolle bestaan gemaak, en tog het hulle so verskillend uitgedraai.
 
Kain het die eerste moordenaar geword en Abel die eerste slagoffer.
 
Hoe kon Kain so 'n verskriklike ding gedoen het? Kain was jaloers en kwaad omdat God nie sy offer aangeneem het nie, maar Kain het nie die beste van sy oes vir die Here geoffer nie. Hy het net van die opbrengs gebring en dit het God oneer aangedoen. Die Here het vir Kain verduidelik dat hy moet doen wat goed en reg is, maar Kain het geweier om te luister. Hy het nie sy woede of jaloesie beheer nie, en hy het sy broer doodgemaak.
 
Geloof in God het Abel nie gespaar nie. Hy was die slagoffer van Kain se selfsug en boosheid.
 
Maar God verstaan die hartseer wat ongeregtigheid en pyn versoorsaak. Ons lees in Genesis 4:10-12: Die Here het gesê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer bly roep na My vanuit die grond. Daarom, vervloek is jy, verban van die grond af – die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit nie langer sy opbrengs vir jou gee nie. 'n Doellose swerwer sal jy op die aarde wees.”
 
Ons moet, soos Abel, die geloofspad loop. Die Here sal ons voetstappe rig, ons pyn erken en geregtigheid laat geskied.
 
Gebed: Here, U verstaan ons harte en hartseer. Help ons asseblief om U te dien en te doen wat reg is, vir ander om te gee en hulle nie seer te maak nie. In Jesus se Naam. Amen