Xanthe Hancox 

Daarom, terwyl ons ook so 'n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. Hebreërs 12:1-2
 
Die maand wat ons oor helde gesels het, bring ons terug na Hebreërs 11. Daar word 'n hele aantal mense gelys, van Gideon en Barak (met hulle onwillige/bang geloof) tot Simson en Jefta (met hulle onkundige/vlak geloof). En dan is daar ander wat ons gedurende hierdie maand bespreek het, soos Ehud en Otniël, wat glad nie eers genoem word nie.
 
Indien die uiteindelike doel van die Bybel is om God aan ons te openbaar, beteken dit dat ons nie op enige van die “helde” van hoofstuk 11 moet fokus nie, maar wel op Jesus. Die keur van geloofsverhale in Hebreërs 11 moet beskou word as katalisators wat ons na God verwys. Die menslike karakters is net toevallig, maar God is die enigste “held” in die bybelse drama.
 
God is uiteindelik die Een wat geopenbaar word, en die Een wat ons moet navolg.
 
Die lys in Hebreërs 11 handel nie soseer oor die geloofshelde nie, maar wel oor mense met 'n swak geloof. Die enigste ware “Held” is Jesus self. (Hebreërs 12:2-3) Die punt is nie dat ons soos Abraham of Moses of Jefta of Simson moet wees nie – die Here behoed ons! Alhoewel al hierdie karakters 'n mate van geloof gehad het, is hulle doel in die Bybel steeds om ons na God te verwys sodat ons sy voorbeeld kan volg. (Efesiërs 5:1-2)
 
Ons moet nie Bybelkarakters op 'n voetstuk plaas of as volmaakte rolmodelle beskou nie. Grepies uit die lewens van hierdie onvolmaakte karakters is slegs aangeteken om ons na God te lei en om, deur dit wat Hy in die verlede gedoen het, ons te help om te verstaan wie Hy is.
 
Die waarheid is dat daar nog aan ons almal se lewens gewerk moet word. (Romeine 3:4) Om 'n rolmodel te hê, is so onseker. Paulus verduidelik die regte manier om die voorbeeld van 'n gelowige na te volg in 1 Korinthiërs 11:1: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.” Met ander woorde, ons moet slegs soos Paulus wees in sover hy soos Jesus is.
 
Gebed: Here, vergewe ons wanneer ons twyfel. Help ons asseblief om te midde van ons problem en moeilikhede op U te fokus en te onthou dat U altyd in beheer is en vir ons omgee. In Jesus se Naam. Amen