Xanthe Hancox 

Toe sê Haman vir koning Ahasveros: “Daar is 'n volk wat versprei is oor al die provinsies van u koninkryk en wat hulle self apart hou van die ander volke. Hulle gebruike verskil van al die ander nasies s'n en hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang om hulle te laat begaan nie. As u dit goedvind, vaardig 'n proklamasie uit om hulle uit te roei. Ester 3:8-9a, 1983-vertaling
 
Die teenwoordigheid van die Jode het Haman, een van Persië se leiers, baie geїriteer. Maar daar was veral een persoon wat hom baie kwaad gemaak het: Mordegai. Ander het voor Haman gebuig, maar Mordegai het geweier. Toe hy daaroor uitgevra is het hy geantwoord dat hy 'n Jood is. Hy was 'n man met sterk beginsels. Hy het in God geglo en sy wette gehoorsaam. Hy kon nie verander net om 'n politikus te paai of die skare te behaag nie.
 
Toe Haman oor Mordegai se reaksie ingelig word, was hy woedend. Maar in stede van om net teen Mordegai op te tree, het hy besluit om al die Jode, Mordegai se volk, te vernietig. Hy het die koning se goedkeuring vir hierdie bose plan verkry deur aan hom te vertel dat hierdie mense "anders" is.
 
Maar God het ingegryp. Ester, wat op 'n wonderbaarlike manier die nasie se koningin geword het, het Mordegai (haar neef) se raad gevolg en die koning oortuig om die Jode toe te laat om hulleself te verdedig. Haman se planne is verydel en Mordegai is tot 'n ereposisie bevorder.
 
Mordegai word nie by naam in die lys van geloofshelde genoem nie, maar sy storie is belangrik en speel 'n deurslaggewende rol in die evangelie. Indien die Jode vernietig is (soos Haman wou hê) sou die verhaal van God se reddingswerk deur die Joodse volk (en uiteindelik deur Christus) nooit vertel geword het nie.
 
Daar bestaan vandag steeds baie mense soos Haman. Hulle het 'n obsessie met mag en trots, en is geїrriteerd wanneer ons verkondig dat daar slegs een God, een waarheid, is.
 
Vra die Here om jou vandag te help om vas te staan en die druk te weerstaan om aan wêreldse standaarde te voldoen. Moet nooit die waarheid verdraai nie. Wees dapper in jou geloof, met die vaste oortuiging dat Hy by jou is.
 
Gebed: Hemelse Vader, dit is nie altyd maklik om die enigste een te wees wat u Naam bely nie. Skenk aan my 'n dapper en sterk gees. Dankie dat U my bewaar. In Jesus se Naam. Amen