Xanthe Hancox 

Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank. Daniël 6:11, 1983-vertaling
 
Wanneer ek aan Daniël en sy geloof dink, is dit altyd die beeld van hom in die leekuil waar hy God vra om hom te red, wat in my gedagtes opkom.
 
Vandag wil ek egter 'n ander beeld van Daniël bespreek. Dit is geensins so dramaties of aksiebelaaid as die een wat ek eerste genoem het nie. Dit is net die beeld van 'n man op sy knieë voor 'n venster besig om tot God te bid, iets wat hy elke dag gedoen het.
 
Geestelike gebruike is belangrik indien ons God in ons besige lewens wil vind. Dit is wat Daniël in sy geloofslewe gedra het.
 
Daar is baie verskillende geestelike gebruike wat mense ontwikkel om hulle verhouding met God te verdiep. Dit kan insluit gebed, Bybellees, en miskien meditasie of om 'n joernaal van hulle geestelike ervarings te hou. Ander geestelike dissiplines mag insluit die bywoning van die erediens op 'n Sondag of Bybelstudie in klein groepe. Deur te vas kan ons opnuut ontdek wat ons werklik voed, en die gee van tiendes kan ons laat onthou met wie se hulp ons ons rekenings betaal.
 
Soms voel dit dalk of jy dit maar net doen omdat jy moet, maar wat jy werklik doen is om te oefen om God te vind. Dit is moeilik om God te vind wanneer jy paniekerig is, maar dit is makliker as 'n mens 'n daaglikse patroon ontwikkel om in jou persoonlike stiltetyd op Hom alleen te fokus. Dit is makliker om aan die einde van 'n moeilike dag ons bekommernisse vir God te gee as ons reeds geleer het om Hom elke aand in 'n tyd van gebed te ontmoet. En dit is baie makliker om getrou te bly aan God se roeping as jy Hom reeds vir maande of jare doelbewus dien.
 
Daniël kon in die leeukuil die Here aanroep omdat hy dit reeds drie keer 'n dag, elke dag, gedoen het. Geestelike dissipline help ons om selfs in die moeilikste omstandighede God se krag en vrede te vind.
 
Gebed: Here, help ons om elke dag te oefen om U te vind. Gee dat ons lewe elke dag met U sal begin en eindig. Amen