Xanthe Hancox 

Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. Hebreërs 11:7, 1983-vertaling
 
'n Waarskuwing kan baie hartseer spaar. 'n Paar jaar gelede het ek die waarskuwingsliggie op my kar se paneelbord geїgnoreer en so 2 km van die huis af sonder petrol gaan staan. Dit is nie dat ek die liggie nie vertrou het nie, maar ek het gedink ek sal die huis heel waarskynlik haal en dus tyd spaar. As ek maar eerder na die waarskuwing geluister het en nie vertrou het op my eie idee van hoe ver ek op my reserwe brandstoftenk kan ry nie, sou ek myself baie tyd bespaar het (om nie eers te praat van die koste en verleentheid om vir hulp te moet vra nie)!
 
Noag het 'n waarskuwing gekry dat daar 'n vloed gaan kom. Die Here het gesien dat die mensdom se verdorwenheid so groot was dat alles wat hulle gedoen het sleg was. Die vloed sou die wêreld terugneem na hoe dit aan die begin was. Sonde het God se goeie skepping vernietig. (Genesis 1:31) Indien daar nie op een of ander manier uitkoms verskaf word nie, was verdrinking die onvermydelike gevolg. “Maak vir jou 'n ark," sê God.
 
Op die ouderdom van byna 600 jaar was Noag nou nie juis ooglopend die man vir die taak nie. Maar vir al hierdie jare het hy getrou volgens die wil van God geleef en hy was nie van plan om nou te stop nie. Wat 'n vreemde opdrag van God! Die ark sou massief wees. Die taak was groot. Maar Noag, gehoorsaam aan God, het aan die werk gespring.
 
Was Noag volmaak? Absoluut nie. Later in sy lewe het hy gestruikel toe hy dronk geword het en homself 'n voorwerp van bespotting gemaak het. (Genesis 9:20-23) En tog, soos al die ander onwaarskynlike geloofshelde, word sy naam wel in Hebreërs 11 genoem.
 
Ons hoef nie volmaak te wees om deur God in 'n besondere manier gebruik te word nie. God het Noag gebruik om oor te begin met die mensdom. Hoe gaan Hy jou gebruik?
 
Gebed: Vader, dankie vir u waarskuwing. Dankie vir die ark. Gee dat mense oral aan u waarskuwing gehoor sal gee en saam met ons in Jesus sal glo en gered word. In sy Naam. Amen