Xanthe Hancox 

Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, wanneer 'n land teen My sondig en heeltemal troueloos word, en Ek steek my hand teen hom uit en vat sy kos weg en bring hongersnood in hom en Ek roei mens en dier uit hom uit, sou selfs daardie drie manne van ouds, Noag, Daniël en Job wat volgens my wil geleef het, net hulleself in die lewe kon hou, sê die Here my God. Esegiël 14:12-14, 1983-vertaling
 
Ek wil graag die leser bedank wat geskryf het om te vra hoekom Job se naam nie in die lys van geloofshelde in Hebreërs 11 voorkom nie. Dit is 'n baie goeie vraag!
 
Niemand in die Bybel, behalwe Jesus, het meer as Job gely en deur dit alles aan God getrou gebly nie. Hoekom verskyn sy naam dan nie saam met die ander geloofshelde nie? Moet sy geloof bevraagteken word?
 
Behalwe in die boek Job word Job se naam slegs twee keer in die Ou Testament genoem, in Esegiël 14:14 en 14:20. In beide verse word Job se naam saam met die van Noag en Daniël genoem. Hulle het wel in verskillende tye en onder baie verskillende omstandighede geleef, maar tog het hulle almal hulle verskillende ontberings verduur. In Jakobus 5:11 word Job se volharding pertinent genoem.
 
Hierdie inligting help ons om te verstaan hoe Job in God se plan inpas. As jy ons twee teksverse vir vandag binne konteks lees, is sien ons dat God hier met Israel praat en dit duidelik maak dat as hulle nie hulle afgode verlaat nie, hulle uitgeroei sal word. Dit is duidelik dat God Noag, Daniël en Job wat Hy geroep het hier voorhou as voorbeelde van mense wat volgens sy wil geleef het.
 
In Hebreërs 11:7 word Noag as 'n man van geloof genoem. In vers 33 van dieselfde hoofstuk word daar indirek na Daniël verwys wanneer ons lees: "hulle het leeus se bekke toegestop". Daarom glo ek wanneer die skrywer van die Hebreërs boek skryf: "Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete" (Hebreërs 11:32) Job wel saam met al hierdie besondere geloofshelde ingesluit word.
 
Gebed: Here, help my om soos Job te glo en gehoorsaam te wees. Help my om wat my omstandighede ook al mag wees, U volkome te vertrou. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen