Xanthe Hancox 

Verder moet jy onder die volk bekwame manne uitsoek, dienaars van die Here, mense wat die waarheid liefhet en nie hulle eie voordeel soek nie. Dan moet jy hulle oor die volk aanstel as leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle moet deurentyd vir die volk hofsittings hou. Die belangrike sake moet na jóú verwys word, en die geringes moet húlle oplos. Dit sal vir jou makliker wees as hulle die verantwoordelikheid saam met jou dra. As God jou beveel om dit so te doen, sal jy met die werk kan aanhou, en al hierdie mense sal dan tevrede huis toe gaan.” Eksodus 18:21-23, 1983-vertaling
 
Jetro het vir sy dogter se gesin omgegee. Sy skoonseun, Moses, het 'n groot taak gehad, en hy het die kers aan albei kante gebrand. Met deernis het Jetro vir Moses raad gegee hoe om op 'n beter, gesonder manier te werk: "Jy maak nie reg nie. … Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie." (Eksodus 18:17-18)
 
In Eksodus 18:13-27 lees ons oor Jetro se uiters praktiese voorstelle aan Moses hoe om sy werk aan leiers oor tien, vyftig, honderd en duisend te verdeel en sodoende sy leierskaplas te verlig en die verantwoordelikhede na bekwame Israeliete te delegeer.
 
Jetro sê dat as Moses sy raad volg dit uitbranding sal voorkom en die volk sou tevrede wees. Dit sou Moses vrystel om op 'n meer oorkoepelende strategie te konsentreer en nie in die hantering van onbenullighede te verval nie. En hierdie stelsel sou sy volk bemagtig om eenvoudiger sake self te hanteer.
 
Jetro was sy tyd vooruit. Sy leierskapstrategie geld vandag steeds.
 
Jetro het met liefde sy wysheid met Moses gedeel en Moses het gelukkig 'n ontvanklike gees gehad. Hy kon sy skoonpa se wysheid geїgnoreer en op die pad na volkome uitputting gebly het, maar Moses het besluit om eerder Jetro se raad te volg. Hy kon die raad as kritiek op sy werk ervaar het, maar Moses het geluister en dit eerder as 'n geskenk van 'n wyse mentor beskou.
 
Soms raak ons geїrriteerd as iemand ongevraag raad gee. "Wie dink hy is hy om vir my te vertel wat om te doen?" Maar God roep ons om vir ons naaste om te gee. Soms beteken dit dat ons ons aan iemand raad moet gee, en ander kere beteken dit dat ons ontvanklik moet wees om na iemand anders se raad te luister.
 
Gebed: Here, ons kan soms so hardkoppig wees en nie die raad van goddelike mentors wat vir ons omgee, aanvaar nie. Gee aan ons die moed om te luister na die raad van diegene wat deur u Woord met ons praat. In Jesus se Naam, Amen