Ewald Schmidt 

“Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy 'n vrou sien bad. Sy was 'n baie mooi vrou. Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.” Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal.”” 2 Samuel 11:2-4a, 1983-vertaling
 
Ons mag kinders van God wees, wat ons bes probeer om Hom getrou te dien. Ons bly mens, en ons is nog in hierdie wêreld. Elkeen van ons sal soms versoekings beleef. 'n Versoeking is nie sonde nie, maar dit is 'n uitnodiging om die Here se pad te verlaat. Vandag moet ons by Dawid leer hoe om dit nie te doen nie.
 
1.    Dawid was nie waar hy moes wees nie. 2 Samuel 11:1 sê: dit was lentetyd, oorlogtyd. 'n Koning was veronderstel om saam met sy weermag te wees, besig om sy land te verdedig. Dawid het gemaklik geraak, hy stuur sy weermag, terwyl hy by die huis rondhang. Hy neem middagslapies terwyl sy manne elders veg. Wanneer 'n mens nie aktief besig is om jou roeping uit te leef nie, en nie luister na die Gees se leiding nie, kan jy op die verkeerde tyd op die verkeerde plek beland.
2.    Dawid kyk 'n tweede keer. Hy staan op sy paleis se dak, en hy sien 'n mooi vrou bad. Sy drange neem oor, hy begeer haar, hy kyk nie weg nie. Sy gedagtes raak buite God se grense. Dawid moes weggekyk het, op sy perd gespring het en saam met sy soldate gaan veg het. Maar hy het nie.
3.    Dawid begin navraag doen. In plaas van om te los, wil hy weet wie sy is. Hy hoor dat sy getroud is. Om haar van sy dak af te kan sien, moes haar man 'n besondere soldaat gewees het, om so naby die koning se huis te bly. Maar dit sit Dawid nie af nie. Gedagtes gaan oor tot dade.
4.    Dawid misbruik sy posisie – hy as koning laat kom Batseba na hom toe.
5.    Die versoeking word 'n daad van ongehoorsaamheid – Dawid slaap by Batseba. Hy pleeg egbreuk.
6.    Die sonde het dodelike gevolge. Batseba word swanger, en haar man was lanklaas tuis. Dawid maak plannetjies om hom tuis te kry, maar hy is 'n lojale soldaat, hy gaan nie huis toe nie. Daarom laat Dawid hom met 'n wrede komplot sterf op die slagveld.
7.    Sonde bring skeiding tussen God en sy kinders – hier sien ons weer hoe vernietig sonde verhoudings.
 
Versoeking is 'n realiteit in elke kind van God se lewe. Ons moet so naby aan die Here lewe, dat die Gees ons dadelik kan waarsku wanneer ons op die verkeerde tyd en plek is, en die verkeerde pad wil volg. Versoeking is nog nie sonde nie, maar ons reaksie daarop kan wees. Wees versigtig vir die strikke van die bose op jou lewenspad!
 
Gebed: Here, U het my geroep om U te volg, en 'n lewe van oorvloed met u seën te beleef. Soms wil die bose of die ou eie ek ander planne voorlê, wat my sal laat val in my wandel met U. Maak my oë oop daarvoor, lei my deur u Gees op die regte pad! Amen.