Ewald Schmidt 

“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My 'n huis bou om in te woon? Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in 'n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf saam met al die Israeliete.”  2 Samuel 7:5-7a, 1983-vertaling
 
'n Gelowige wil graag voluit vir die Here lewe, Hom eer met ons lewe. As die Heilige Gees ons dring, wil ons soveel as moontlik vir die Here doen, uit dankbaarheid vir sy goedheid en liefde in ons lewens. Vandag leer ons om ook te onderskei: Wat is my roeping, en wat nie?
 
Ons elkeen as gelowiges is geroep om elke dag die Here lief te hê met ons hele hart, siel en verstand. Ons is ook verantwoordelik om ons naaste so lief soos onsself te hê. Dit is waar vir elke gelowige. Maar dan staan elkeen van ons ook verantwoordelik teenoor die Here vir ons unieke roeping, waarvoor ons unieke genadegawes en geleenthede gekry het.
 
Dawid het so baie reggekry in diens van die Here. Lees die mooi getuigskrif van 2 Samuel 7:8 af! Die Here het hom gebruik om die land te verenig, met die inneem van Jerusalem was die intog van die Beloofde Land uiteindelik voltooi. Dawid het die land beveilig teen die baie vyande wat hulle graag wou uitwis. Hy het stabiliteit gebring, en alles gereed gemaak vir die volgende hoofstuk van God se geskiedenis met sy volk. Dawid was getrou aan sy roeping, hy het dit goed gedoen. In 2 Samuel 7 wil hy nou die kersie op die koek sit – hy wil 'n tempel bou wat die Here waardig sal wees. Maar dit was nie die Here se roeping vir hom nie, al klink dit na so 'n mooi plan.
 
Iets mooi hier – die Here was gelukkig in 'n tent en tabernakel saam met sy volk in die woestyn. Hy is die mobiele God, wat saam met sy kinders beweeg. Die volk sou later in die tempel vasval, en dink dat God net daar is. Dat Hy nie meer buite sy tempel 'n invloed het nie, of nie raaksien wat hulle daar buite doen nie.
 
Die punt is: Dawid moes by sy roeping bly. Die Here gee hom 'n wonderlike belofte – in 2 Samuel 7:16 lees ons: "Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.” Hiermee word die wêreld voorberei op Jesus se koms, wat nie in tempels sou woon nie, maar in die harte van mense.
 
Gebed: Here, dankie vir u groot liefde en genade in my lewe. Dankie dat U my geseën het met die genadegawes en geleenthede nodig om my roeping voluit uit te leef. Help my om getrou te wees oor dit wat U my voor geroep het. Amen.