Ewald Schmidt 

““Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter. Daar het 'n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.” 2 Samuel 12:1-4, 1983-vertaling
 
Van Adam en Eva se tyd af dink mense dat hulle vir die Here kan wegkruip as hulle sondig. Dit werk nooit. Ons God is alomteenwoordig en alwetend, Hy sien en hoor alles, Hy ken selfs ons gedagtes. Hy wil nie ons pret in die lewe bederf nie, Hy wil vir ons lewe in oorvloed gee. Binne sy grense is daar seën en vreugde. Verhoudings is vir Hom baie belangrik, sy opdragte word gegee om gesonde verhoudings te bevorder.
 
Dawid het gedink hy gaan wegkom met sy owerspel met Batseba, en sy moord op haar man. Die Here stuur die profeet Natan om hierdie gelykenis vir Dawid voor te hou. Dawid word woedend daaroor. Hy sê hierdie man moet doodgemaak word, en die skade viervoudig vergoed word (2 Samuel 12:5-6). Hoe skokkend moes dit wees toe Natan vir hom sê: “Jy is die man!” (2 Samuel 12:7). Deur sy profeet oortuig die Here sy kind van sonde. En hier lê die toets – wat maak jy wanneer die Here sonde uitwys in jou lewe? Dawid wys: bely dit in berou. Vertrou op die Here se genade. Maak reg wat jy kan. Maar sy seun Salomo en baie ander konings sou eerder die profeet wou doodmaak, of dit ontken. Die gevolge dan word al hoe erger, die skade al hoe groter. Die sonde lei na die dood.
 
Elkeen van ons val soms in sonde, dalk doen ons soms iets verskrikliks. Die Here los nie sy kind wat geval het nie. Deur sy Woord, sy Gees of een van sy kinders wys hy ons dat daar groot fout is. Moenie die Here dan teenstaan nie. Moenie ontken nie, Hy ken selfs die gesindheid van ons hart. Mag die Gees ons dan lei om werklik berou te hê, en ons skuld voor die Here te bely.
 
Sonde het gevolge. Dawid en Batseba se eerste kind saam het gesterf. Die Here straf egter nie meer sy kinders nie, Hy het klaar gestraf aan die kruis. Hy nooi ons terug na Hom toe. Hy wil so graag die verhouding herstel. Die Here het ook genade. Die tweede kind van Dawid en Batseba was Salomo, en hy word die voorouer wat in Jesus se geslagsregister in Matteus 1 opgeteken is. Die punt vandag: as die Here jou op sonde wys, moenie hardkoppig wees nie, bely en maak reg!
 
Gebed: Here, ek het gesondig. Ek het u genade so nodig om my heel te maak. Dankie vir Jesus wat klaar vir my sonde betaal het. Dankie dat U my skoonwas deur sy bloed. Heilige Gees, tel my op, lei my op die regte pad om God te eer. Amen.