Ben Fourie 

“Wysheid roep opgewonde op straat, op die stadspleine laat sy haar stem hoor.”  Spreuke 1:20, 2020-vertaling
 
Nie al die spreuke in die boek kom van Salomo nie, maar is oor ’n lang tyd versamel. Treffend is dat die boek deurgaans baie klem lê op Wysheid wat dwarsdeur as vroulik aangedui word. Volgens aantekeninge in Die Bybel 2020-vertaling, is die doel van die boek dan ook “om die leser met wysheid en insig toe te rus, sodat ’n sinvolle lewe gelei kan word” en dit is inderdaad wat ons in Spreuke kry.
 
Die spreuke in hoofstuk 31 is afkomstig van die moeder van koning Lemuel wat haar seun onderrig in wysheid en uit hierdie hoofstuk kom ook die loflied oor ’n knap vrou. Die loflied begin met die woorde: “’n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde.” Dwarsdeur die Ou Testament sien ons hoe God knap vrouens gebruik, vrouens wat met wysheid optree om sy koninkryk te bevorder. Hulle is dalk nie oral so prominent nie, maar speel ’n deurslaggewende rol in die hele geskiedenis van God se volk.
 
Ons het in die reeks al gekyk na Ragab, Naomi en Ester, maar daar is baie ander soos die rigter Debora van wie ons in Rigters hoofstuk 4 lees. Sy was ’n besondere vrou na wie die Israeliete opgegaan het om beslissings oor reg- en ander sake te kry. Die volk van God het in hierdie tyd swaar gekry onder die koning van Kanaän en sy leërowerste Sisera. Debora was die geestelike krag agter die Israelitiese leërowerste Barak en hy wou glad nie teen die koning van Kanaän optrek as Debora nie saamgaan nie. In die verhaal is ook die vrou Jael. Toe Sisera se leër verslaan is, het hy weggehardloop en in die tent van Jael probeer skuiling vind, maar sy het net gewag tot hy slaap en hom toe doodgemaak.
 
Dink verder aan Abraham se vrou Sara, Moses se suster Mirjam wat ook in die uittog ’n rol gespeel het, Samuel se ma Hanna wat hom by God afgesmeek het en so grootgemaak het dat hy groot werk in diens van God gedoen het, asook talle ander vroue wat onontbeerlik was in diens van God. Die Wysheid word nie verniet in vroulike terme beskryf nie en God gebruik vroue se wysheid op ’n besondere manier.
 
Gebed: Ons dank U dat U ook in ons kerke en samelewing die wysheid van vroue gebruik tot uitbreiding van u koninkryk. Amen