Ben Fourie 

“Sinloos, volslae sinloos sê Prediker, sinloos, volslae sinloos; alles is sinloos.” Prediker 1:2, 2020-vertaling
 
Kan dit wees? Staan hierdie woorde regtig in die Bybel? Ons het die hele maand gekyk na mense wat deur God geroep en gebruik is. Nou kry ons hier ’n baie wyse man, maar dit lyk of hy tot die slotsom gekom het dat die lewe geen sin het nie.
 
Wie die Prediker was weet ons nie. In die eerste vers word gesê dat hy ’n seun van koning Dawid is en daarom skryf mense die boek aan Salomo toe, maar die boek dateer baie duidelik uit ’n later tydvak as Salomo se tyd van ’n 1 000 jaar v.C. Die Hebreeus waarin die boek geskryf is toon ’n invloed van Aramees en ook ander tale en is waarskynlik een van die jongste boeke in die Ou Testament, ongeveer 350 v.C. Die skrywer was waarskynlik ’n wysheidsleraar van daardie era.
 
Wat wil die Prediker vir ons sê? Is sy boodskap werklik so negatief as wat dit met die eerste oogopslag lyk? Ja en nee. Hy ervaar nie die lewe as net negatief nie en vertel selfs van die vreugde om te kan eet en drink en om te geniet wat goed is. Tog kyk hy baie skerp na alles wat rondom hom gebeur, die onderdrukking van die wat weerloos is, die oormatige liefde vir geld en besittings, die valse offers wat gebring word, ja al hierdie dinge wat verkeerd is maak hom sinies oor die sin van die lewe. Baie van die dinge is ongelukkig steeds waar in ons eeu.
 
Die boek het vroeër by hoofstuk 12:8 geëindig en so gesien is dit maar bra troosteloos. Maar dan kom daar twee kort naskrifte wat waarskynlik deur leerlinge van die Prediker geskryf is om iets weer te gee van wie hy was en van hoe hy gedink en geredeneer het. En so eindig die boek in die heel laaste vers met ’n uiters belangrike slotsom: “Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na … " Dit maak sin en dit gee sin aan die lewe.
 
Gebed: Onse Vader help my om wanneer die lewe en al sy gedoentes vir my soms ook so sinloos lyk, te onthou dat om aan U ontsag te betoon en U lief te hê die lewe volkome sinvol maak. Amen