Ben Fourie 

“Mordegai was die voog van Hadassa, dit is Ester …. Die jong meisie het ’n mooi figuur gehad en was beeldskoon.” Ester 2:7, 2020-vertaling
 
Koning Ahasveros (Xerxes 1 in die geskiedenis) hou ’n skoonheidskompetisie, maar nie om ’n mejuffrou wêreld te kies nie. Nadat koningin Vasti geweier het om voor ’n klomp besope vriende en amptenare van die koning te verskyn, soek hy na ’n nuwe koningin. Onder die finaliste is ’n pragtige jong Joodse meisie Hadassa, maar sy is daar met ’n baie besonderse doel. God het haar self daar geplaas soos haar oom Mordegai in Ester 4:14 vir haar sê: “En wie weet of jy nie juis vir ’n tyd soos hierdie koninklike status verkry het nie.” Ester is die enigste boek in die hele Bybel waar die naam van God nie een keer genoem word nie, maar dit beteken nie dat God afwesig is waar sy volk in groot gevaar verkeer nie.
 
Die vestingstad, Susan, was een van die vier vestingstede waar die konings van die Persiese ryk ’n gedeelte van die jaar deurgebring het. In Susan en omstreke was daar ook baie Jode wat na die ballingskap in verstrooiing gebly het en nie na Israel teruggekeer het nie. Dit vir hulle wat Haman wil uitwis, maar God het vir Ester uitgekies om voorspraak by die koning te doen vir die mense van haar volk.
 
In hoofstuk 3 lees ons van Haman se planne en hoedat Ahasveros toestemming gegee het dat alle Judeërs met hulle vrouens en kinders doodgemaak moes word. Ester hou egter ’n maaltyd en by die geleentheid plaas sy haar lewe op die spel deur by Ahasveros te pleit vir haar volk. Tot op daardie stadium het Ahasveros nie geweet dat sy ’n Jood is nie. Hy staan haar versoek toe en wanneer die Jode aangeval word verdedig hulle hulleself en oorwin diegene wat hulle wou uitroei.
 
Ons kan God nooit beperk tot wie Hy moet kies om sy werk te doen nie. Hy gebruik ook die skoonheid van ’n jong vrou om sy uitverkore mense te red.
 
Gebed: Liewe Vader, al is ons dalk nie so mooi soos Ester nie en beklee ons nie koninklike status nie, is ons dankbaar dat U ons ook uitgekies het om deel van u volk op aarde te wees. Gebruik ons ook tot u eer. Amen