Ben Fourie
 
“Toe Daniel te wete kom dat bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op ’n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het.” Daniel 6:11
 
Elke keer as ek die boek Daniël lees, is die eerste prentjie wat in my kop kom die uit my Kinderbybel van lank gelede. Daniël is in die leeukuil met ’n klomp leeus rondom hom. Al was dit die enigste storie van die hele boek, sou dit al ’n geweldige klomp inligting gegee het oor Daniël se onwrikbare geloof in God en God se almag wat selfs die bekke van leeus kan toesluit. Soos ons weet gaan dit egter in die boek oor soveel meer as net die storie van die leeukuil, want God het hier ’n uitsonderlike jong man gekies om in die koninklike hof van die grootste koninkryk van daardie tyd, God se Naam bekend te maak. Dit het hy gedoen selfs tot in die tyd van die Persiese koning Darius.
 
Probeer jou indink in die situasie van Daniël. Hy was nog jonk toe hy uit sy land en omgewing en volk weggevoer is na die groot stad Babel. Die ergste van alles was dat hy en sy vriende hulle ook in ’n land bevind het waar die God van Israel nie erken en aanbid is nie. Nebukadnesar het selfs die heilige voorwerpe uit die tempel laat verwyder. Te midde van hierdie ontworteling word Daniel en sy vriende ’n unieke kans gebied. Hulle is gekies om onderrig te word in die taal van die Galdeërs, die vaardighede aan te leer wat nodig was om in die koning se paleis diens te verrig en om selfs koningskos en wyn te geniet.
 
Wat ’n versoeking, maar hulle kies om op groente en water te leef, want Daniel wou hom nie “besoedel met die koning se kos nie”. Dit sou sy verhouding met God vertroebel. As ons die verdere geskiedenis van Daniël lees en hoe hy ’n baie belangrike man aan die koninklike hof geword het, sien ons hoedat hy die God van Israel onwrikbaar bly dien het en selfs op die rand van die leeukuil nie verander het nie. Ons moet seker almal bely dat ons nie elke dag die moed van Daniël het nie. Ons moet bely dat ons soms stilbly wanneer God se Naam ydellik gebruik word. Ons het dikwels ook nie die moed het om in vreemde geselskap oor God te praat nie.
 
Gebed: Help my om ook soos Daniël te alle tye en op alle plekke standvastig in die geloof te bly.  Amen