Ben Fourie 

“Die woorde van Jeremia, seun van Hilkia, uit die priestergeslag in Anatot, in die gebied van Benjamin.” Jeremia 1:1, 2020-vertaling
 
Wie is Jeremia? Dit is mos hy wat Klaagliedere geskryf het en dit is hoe ons dikwels aan hom dink. Ons noem ’n klakous, ’n Jeremia. Om so oor hierdie profeet te dink is egter baie ver van die waarheid af. Hy is in die geskiedenis van God se volk geroep om ’n besondere boodskap oor te bring, soms wel met trane en ander kere met groot vreugde.
 
Jeremia is ’n man wat die heil van God se volk op die hart dra en daarom die dikwels hartseer klank in sy boodskappe oor die donker vooruitsigte vir die volk. Hy tree op in ’n veelbewoë tyd in beide die volk Israel en die wêreld se geskiedenis. Daar was groot woelinge op die wêreldverhoog met die Galdeërs wat die ou koninkryk van Babilon weer aan die opbou was, asook die nuwe farao Nego van Egipte wat begin stem dik maak het.
 
In Israel het dit aan die begin van Jeremia se bediening (ongeveer 626 v.C.) op politieke terrein goed gegaan onder die jong koning Josia, maar met sy dood word Jojakim koning. Hy is nie net aan die farao gedienstig nie, maar onder sy koningskap word die ou godsdienstige misbruike en verkeerde dinge weer ingevoer.
 
Hierteen maak Jeremia sterk beswaar en betaal ook die prys daarvoor wanneer hy gevange geneem en mishandel word. Hy word verder verbied om na die tempel te gaan en daar op te tree en God se boodskap oor te dra. Hy beleef die eerste wegvoering van ’n groot deel van die volk in ballingskap in 598 v.C. ’n Mens kan verstaan dat hy in die omstandighede klaagliedere kon skryf, maar die oorheersende boodskap is steeds dat God die volk liefhet. Lees gerus hoofstuk 31. Om dit te illustreer, koop hy in opdrag van God vir hom ’n stuk grond in Anatot en dit terwyl die leër van Nebukadnesar besig was om Jerusalem te beleër. Dit klink heeltemal sinloos. Grond was niks werd nie en sou vir baie jare niks werd wees nie. Tog koop Jeremia dit as teken dat wat nou sinloos lyk weer sin sal kry wanneer God sy volk uit ballingskap sal terugbring na hulle grondgebied.
 
Gebed: Vergeef my Vader as ek ook dikwels nie verstaan nie. Help my om soos Jeremia, wat ten spyte daarvan dat dit heeltemal sinloos gelyk het, so op U vertrou het dat hy die grond gekoop het. Help my om ook in my eie lewe te besef dat wat nou vir my sinloos mag lyk in u plan volkome sin maak. Amen