Ben Fourie 

“Die visioen van Jesaja seun van Amos, wat hy gesien het aangaande Juda en Jerusalem in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.” Jesaja 1:1, 2020-vertaling
 
Jesaja, die man aan wie God die toekoms geopenbaar het, maar wat ook die woorde van God vir die mense van sy eie tyd moes bring. Ons weet dat die boek Jesaja oor 'n lang tydperk tot stand gekom het en dat daar verskillende skrywers aan die boek gewerk het. Die eerste deel het waarskynlik tweehonderd jaar voor die laaste deel, wat uit die tyd na die Babiloniese ballingskap kom, ontstaan.
 
Die historiese Jesaja het vanaf 740 v.C. in die tyd van die konings wat in ons teksvers genoem word gelewe. Hy was getroud, het twee seuns gehad en het die grootste deel van sy lewe in Jerusalem gewoon. Verder weet ons van hom as mens eintlik baie min, tog het God hom gekies om 'n besondere boodskap aan die hele wêreld te bring. In die pragtige visioen wat in Jesaja 6 beskryf word sien hy God op die troon sit en in vers 8 hoor hy die stem van God wat vra: “Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?” Daarop antwoord Jesaja: “Hier is ek, stuur my.” Maklik was dit nie, want God se volk het van Hom af weggedwaal en Jesaja moes die boodskap bring dat hulle eers deur die smeltkroes van ballingskap sou moes gaan voordat Hy hulle weer na hulle land sou terugbring.
 
Die doel van die boek kan seker die beste saamgevat word uit die betekenis van die naam Jesaja. Die naam beteken “die Here red” of “die Here bewerk heil”. God wil deur sy profeet bekendmaak dat Hy alleen God is en dat Hy redding of heil vir sy volk wil bring, maar ook vir die hele wêreld. In die grootse gedeeltes uit hoofstukke 9, 52, 53 en ander word dit duidelik dat God nie net sy volk uit ballingskap sal red nie, maar die hele wêreld uit die ballingskap van sonde wil bevry. Alhoewel hierdie gedeeltes op die tyd van Jesaja en die ballingskap wys, wys dit ook oor baie eeue heen na God se grootste profeet, sy eie Seun.
 
Gebed: Here, help my om ook soos Jesaja gereed te wees as U iemand soek om te gaan vertel van u groot liefde vir die hele wêreld. Amen