Ben Fourie 

“Sadok, die priester, het die horing met olie uit die tent geneem en Salomo gesalf. Hulle het op die ramshoring geblaas en die hele volk het geroep: ‘Lank lewe koning Salomo’”.
 
Dit bly vir my verstommend hoe uiteenlopend die mense is wat deur God geroep word om in sy diens te staan. As 'n mens Salomo byvoorbeeld met sy vader, koning Dawid, vergelyk, is dit twee wêrelde uitmekaar. Dawid was die vegter wat die grondgebied van Israel moes verseker, maar ook digter van die mooiste psalms.
 
Salomo was nie ‘n vegter nie, maar het so 'n groot weermag gehad dat niemand hom waarskynlik wou uitdaag nie en daar was dus vrede in die land. Hy is in sy tyd gereken as 'n baie wyse man soos talle spreuke asook die boek Prediker getuig. Op 'n lysie van die rykste mense van daardie tyd sou hy dalk onder die eerste tien getel het. Lees gerus 1 Konings 4 verse 22 tot 28 en 10 verse 14 tot 29 om 'n idee van sy rykdom te kry.
 
So beroemd was sy rykdom en wysheid dat selfs die koningin van Skeba nuuskierig was om te kom kyk. In hierdie tyd van oorvloed en vrede bou hy vir God 'n luisterryke tempel wat bly staan het totdat die Babiloniërs dit omtrent vierhonderd honderd jaar later sou vernietig.
 
Salomo het ook 'n harem van sewe honderd vroue van koninklike stand en driehonderd byvroue uit bykans elke nasie gehad. Hulle sou op die ou end vir sy ontrou verantwoordelik wees, want lees ons in 1 Konings 11:4 “Teen die tyd wat Salomo oud was, het sy vroue sy hart verlei om ander gode te volg en was sy hart nie meer volkome by die Here sy God…”. Die gevolge van hierdie ontrou was dat na Salomo se dood die koninkryk geskeur het met tien stamme wat die noordelike koninkryk van Israel gevorm het en twee stamme wat die suidelike koninkryk van Juda uitgemaak het. Met hierdie skeuring het die eenheid wat so noodsaaklik was vir die oorlewing van God se volk dan verdwyn.
 
Ons wens seker soms vir 'n bietjie van Salomo se wysheid en 'n groterige deel van sy rykdom, maar veel belangriker is dit om aan die Here getrou te bly.
 
Gebed: Dankie Here dat ek nie groot rykdom of wysheid nodig het om U te kan dien nie. Gebruik my net soos ek is met wat ek het om in u diens te staan. Amen