Ben Fourie 

“Samuel het die horing met olie geneem en hom daar tussen sy broers gesalf. Die Gees van die HERE het van daardie dag af en ook verder van Dawid besit geneem.”  1 Samuel 16:13, 2020-vertaling
 
Was Dawid die bekendste van al die Bybelse konings? Volgens Bybelse gegewens lyk dit so, maar wat die geskiedenisbronne betref tog nie. Dit is eers in 1993 dat 'n fragment ontdek is met die inskripsie “Beit David” of te wel “Dinastie van Dawid”. Daar is geen sekerheid dat dit wel koning Dawid van die Bybel is nie, maar dit kan wees. Van koning Omri van Israel lees ons egter in meer as een antieke geskrif.
 
Tog word daar in die Bybel net 10 verse in 1 Konings 16 en een enkele vers in Miga 6 aan Omri gewy, terwyl daar baie hoofstukke oor Dawid geskryf is. Die verskil is dat alhoewel Omri die Noordelike koninkryk van Israel uitgebou het deur sy militêre veldtogte, daar niks positief te sê is oor sy verhouding met God nie. Inteendeel, die Bybel sê dat hy verkeerd gedoen het in die oë van die Here en meer kwaad aangerig het as enigiemand voor hom.
 
Hierteenoor het Dawid van die begin af baie naby aan God geleef en die vrugte gepluk van 'n lewe aan God toegewy. Tog was Dawid beslis nie volmaak nie. Hy tree soms wreed op en is voortdurend besig om oorlog te maak, tot so 'n mate dat ons in 1 Kronieke 22 vers 8 lees dat God vir hom gesê het: “Jy mag nie vir my naam 'n huis bou nie, omdat jy so baie bloed voor My op die aarde vergiet het.” Volgens sy eie getuienis in verskeie psalms raak hy ook bang vir die vyand en soms begeef sy moed hom (Psalm 61:3). Op ander kere is hy moedeloos.
 
Dan op 'n dag sien hy vanaf sy paleis se dak die mooi vrou Batseba besig om haarself te was en kry so 'n begeerte na haar dat hy 'n plan maak sodat haar man in 'n geveg sou sterf. Wanneer die profeet Natan vir Dawid op hierdie sonde wys, skryf hy die aangrypende Psalm 51 waarin hy by God pleit om vergifnis. Alhoewel God hom straf, word hy wel vergewe en dien God nog tot in sy hoë ouderdom.
 
Ons kan nooit volmaak wees nie. Selfs Dawid kon nie volmaak wees nie, maar vir die wat naby aan God leef ten spyte van hulle tekortkominge, is daar altyd weer vergifnis en 'n lewe in God se diens.
 
Gebed: Hou U my asseblief baie naby aan U en vergeef ook my menigvuldige oortredinge. Amen