Ben Fourie 

“Hy het ’n seun gehad met die naam Saul, ’n mooi jong man. Onder die Israeliete was daar niemand aantrekliker as hy nie. Hy het kop en skouers uitgestaan bo die hele volk.”
 
Daar is min verhale in die Bybel so hartseer as die van Saul. Ten spyte daarvan dat God self hom uitgesoek het as die eerste koning van Israel, het hy nie aan die verwagtinge voldoen nie. Maak God dan ook foute? Natuurlik nie. Ons is dikwels geneig om dit wat verkeerd loop met mense se lewens voor God se deur te sit. Mense maak foute en Saul het baie foute gemaak en veral in hierdie ongehoorsaamheid bly volhard.
 
Sy koningskap begin op ’n hoë noot wanneer hy in sy eerste geveg as koning die Ammoniete ’n gevoelige slag toedien, maar net met die volgende oorlog teen die Filistyne begin die krake in sy mondering wys. Toe Samuel nie betyds opdaag om die brandoffer vir God te bring nie en van die manskappe begin dros, het Saul begin twyfel aan God se beloftes en dit op hom geneem om self die brandoffer te bring. Hierdie ongehoorsaamheid kos hom op die lange duur sy koningskap.
 
Van hier af gaan dit met Saul al slegter. Hy laat die priesters vermoor omdat hulle Dawid gehelp het. Wanneer God opdrag gee dat die Amalekiete en hulle besittings met die banvloek getref moet word, laat Saul die manskappe van die vee en ander besittings as buit neem. Wanneer Samuel hom daaroor konfronteer is sy verskoning dat die vee gebuit is om as offer aan die Here te gee. In 1 Samuel 15:22 antwoord Samuel hom as volg: ”Is daar vir die Here vreugde in brandoffers en maaltydoffers, soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk om gehoorsaam te wees, is beter as maaltydoffers…” Op die ou end vra Saul selfs die waarsêer vrou van En-Dor om Samuel se gees op te roep, iets wat God ten strengste verbied het. Sy lewe eindig dan ook roemloos wanneer hy op die slagveld sy eie lewe neem.
 
Wat leer ons hieruit? God roep en soek na die mens, maar om Hom te volg is nie ’n ligte saak nie. Hy vra ons absolute gehoorsaamheid. God vergeef egter selfs ons ongehoorsaamheid wanneer ons skuld voor hom bely. Dit het Saul nooit gedoen nie en daarom het hy die duur prys betaal.
 
Gebed: Ons Vader, bewaar my daarvan dat ek ongehoorsaam is, maar boweal help my om raak te sien wanneer ek die pad byster raak. Help my om dan opreg by U vergifnis te vra, want dan weet ek verseker dat U dit vir my sal gee.