Ben Fourie 

“Elia, ’n man uit Tisbe, een van die nedersetters in Gilead, het vir Agab gesê: ‘Sowaar as die Here, die God van Israel, in wie se diens ek staan, leef, daar sal in die komende jare geen dou of reën wees nie, behalwe op gesag van my woord.’” 1 Konings 17:1, 2020-vertaling
 
Elia, die enigste gewone mens, behalwe moontlik Henog, wat lewendig in die hemel opgeneem is. Elia is ook net een van twee mense in die Ou Testament van wie ek weet wat iemand wat dood was weer lewendig kon maak. Elia die onverskrokke profeet van God in ’n tyd toe dit in die koninkryk van Israel baie sleg gegaan het. Die slegte koning Omri is deur sy nog slegter seun Agab opgevolg. Laasgenoemde neem as vrou 'n heidense prinses met die naam Isebel en saam met haar begin aanbid hy die afgod Baäl en bou selfs vir Baäl 'n tempel in die hoofstad Samaria. Die Bybel sê hy het meer gedoen om die Here te tart as al sy voorgangers.
 
Ons sien hoe die Here vir Elia op wonderbaarlike wyse sorg, eers deur die kraaie wat vir hom kos gebring het en daarna deur die weduwee van Sarfat se kruik met meel en fles met olie wat nie opgeraak het nie. Drie jaar lank het God vir hom gesorg en toe word hy deur God na Agab gestuur. Uit hierdie opdrag van God vloei Elia se “kompetisie” met die profete van Baäl en Asjera op die berg Karmel. Die oorwinning oor die afgod en sy profete is so duidelik en finaal dat die volk, wat saam met Agab en Isebel agter die afgode aangeloop het, net kan uitroep; “Die Here, Hy is God! Die Here Hy is God!” Die finale afloop op Karmel is dan die groot reën wat uitsak na jare se droogte.
 
Ten spyte van hierdie groot oorwinning raak Elia bang wanneer Isebel dreig om hom te laat doodmaak. Hy vlug die woestyn in waar hy erg terneergedruk onder 'n bos inkruip en bid dat sy lewe tot 'n einde moet kom. Wat 'n kontras met die Elia wat kort tevore in vervoering sy kleed opgebind het en voor Agab se strydwa uitgehardloop het. Dit is eintlik verstommend dat hierdie man wat so deur God gedra en gebruik is so moedeloos kon word.
 
God laat hom nie daar in sy ellende bly nie, maar stuur hom na berg Horeb waar hy ook soos Moses die geweldige teenwoordigheid van God self beleef.
 
Gebed: Here help asseblief ook vir my wanneer ek soms ten spyte daarvan dat ek U ken, moedeloos raak. Laat my elke dag u teenwoordigheid ervaar. Amen