Ben Fourie 

“In die jare toe die Rigters nog regeer het, was daar hongersnood in die land. ’n Man van Betlehem in Juda het tydelik in die gebied van Moab gaan bly, hy en sy vrou en sy twee seuns. Die man se naam wat Elimeleg, sy vrou se naam was Naomi en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon.” Rut 1:1,2a, 2020-vertaling
 
Iewers, ek dink dit is in 'n boek van IL de Villiers, het ek vir die eerste keer bewus geraak daarvan dat alhoewel die naam van die boek “Rut” is, dit ten diepste oor Naomi gaan. Onlangs lees ek in Die Bybel: 2020-vertaling by die Inleiding oor Rut die volgende: “Die sentrale tema is dié van die weerlose weduwee sonder toekoms vir wie God, deur die skynbaar toevallige gebeure van elke dag, 'n nuwe toekoms skep”.
 
Natuurlik is die storie van Rut self en die mooi liefdesverhaal van haar en Boas ook 'n belangrike storielyn, maar God se pad met Naomi práát met 'n mens. Ironies dat Naomi en haar gesin juis uit Betlehem (huis van brood) na Moab toe moes trek omdat daar nie kos in Israel was nie. Die verblyf in Moab was redelik lank, want Naomi se man sterf daar, haar seuns trou met Moabitiese vroue, maar sterf tien jaar later self ook. Rut 1:5 stel haar probleem baie duidelik. “Die vrou het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en sonder haar man.”
 
Vir 'n weduwee in 'n vreemde land was dit 'n baie moeilike situasie. Sy het geen broodwinners gehad nie, geen familie behalwe die skoondogters nie en as weduwee ook nie 'n besondere posisie nie. In daardie tyd het 'n vrou dikwels haar plek in die samelewing verkry deur wie haar man en familie was.
 
Na haar terugkeer in Betlehem sê sy vir die vroue (Rut 1:20): “Moet my nie Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak.” Bitter wel, maar God het nie van haar vergeet nie en haar ook nie verlaat nie, want in Rut 4:16 lees ons van die seuntjie wat uit die huwelik van Rut en Boas gebore is: “Naomi het die kind geneem en op haar skoot gesit en sy pleegmoeder geword.” Dit beteken volgens Bybelse gebruik dat sy die kind as haar eie aangeneem het. Sy naam was Obed wat beteken “dienaar van God”. Hy was die oupa van koning Dawid uit wie se geslag die Messias sou kom.
 
God soek Naomi op en die bitterheid word omskep in groot vreugde.
 
Gebed: Ons loof U dat U altyd getrou bly en as die lewe ook vir ons soms galbitter proe, is U net 'n gebed ver. Amen