Ben Fourie 

“In die eerste regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, het die Here die gees van Kores, koning van Persië aangevuur.” Esra 1:1a, 2020-vertaling
 
Hy is nie verniet Kores die Grote genoem nie, want hy was inderdaad een van die heel grotes van die antieke tyd. Omdat hy so ’n prominente rol gespeel het in die terugkeer van die Joodse ballinge na hulle eie land is dit goed om ’n bietjie te kyk na die geskiedenis van Kores.
 
In die wêreldgeskiedenis staan hy bekend as Cyrus van Persië. Hy word in 559 v.C. koning van ’n klein koninkryk, maar teen die jaar 539 het hy reeds die sewe Persies stamme onder hom verenig, die Meders onderwerp en wat vandag Turkye is, by sy koninkryk ingelyf. In 539 v.C. verower hy Babel. Hierdeur kry hy ook beheer van Sirië en Palestina om sodoende ook heerser oor die Joodse bannelinge, en natuurlik die wat in Juda oorgebly het, te word. Dit maak hom die heerser van die grootste ryk van sy tyd.
 
Hy was ’n wyse koning wat die gebruike en godsdiens van die verowerde volke gerespekteer het. Ons weet nie wat sy godsdienstige oortuigings werklik was nie, want dit is nie duidelik uit buite Bybelse bronne nie. In Esra word gesê dat hy geglo het dat die God van die hemel al sy koninkryke aan hom gegee het en dat enige deel van die Joodse volk wat na die ballingskap oorgebly het na Jerusalem moes terugkeer om God se tempel te herbou.
 
Kores word drie-en-twintig keer by naam in die Bybel genoem. In Jesaja 45:1 lees ons: “So sê die Here vir sy gesalfde, vir Kores, wie se regterhand Ek vasgegryp het om nasies voor hom te verslaan, deur konings te ontwapen om voor hom deure oop te maak, sodat poorte nie vir hom gesluit sal bly nie.” Dit is vreemd dat iemand wat glad nie ’n lid van God se volk is nie ’n gesalfde genoem word. Gesalfdes in die Bybel was immers persone uit die volk wat vir ’n baie spesiale opdrag in God se diens afgesonder is. Dit is in die verband dat ons Kores as gesalfde moet verstaan. God kies en sonder hom af om die weg te baan vir die terugkeer van die volk na hulle eie land.
 
’n Wêreldheerser in God se diens? God kan enigeen kies om sy werk te doen, selfs Kores die Grote, want God is baie groter as selfs die belangrikste mens op aarde.
 
Gebed: U het u volk gered deur gebruik te maak van ’n wêreldse koning. Baie dankie dat U ons ook van die sonde en dood gered het deur die Koning van alle Konings, u Seun, Jesus Christus. Amen