Carina Francke 

“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
 
"Die riviere in Alaska wat na die see toe loop, se mondings vries gedurende die winterkoue maande. Dit is 'n treffende beeld van die “stomheid” van sommige Christen dissipels wie se getuienis bevrore raak en wat as gevolg daarvan geen getuienisinset in die wêreldoseaan meer het nie." (S Ozrovech:Tydkringe van die Lewe)
 
Is jy skuldig aan hierdie stom fenomeen? Ja? Dan wil ek jou aanmoedig om hierdie dagstuk biddend en met 'n ontvanklike hart te lees.
 
”Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: "Ontvang die Heilige Gees!’ (Johannes 20:21-22)
 
Met hierdie handeling gee Jesus aan sy dissipels hulle Gees-bekragtigde en Gees-geleide sendingopdrag – om die Goeie Nuus oor Jesus te verkondig sodat mense se sondes vergewe kan word. Sien jy dat elke lid van die Godheid betrokke is by die verlossingsplan en die sending om die Evangelie wêreldwyd te versprei? God die Vader stuur sy Seun, en Jesus stuur sy dissipels (wat ons insluit). Maar nie voordat Hy hulle toerus met die Heilige Gees nie.
 
Jesus meen erns met hierdie saak. Hy stuur sy dissipels die wêreld in. Sy opdrag is duidelik: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matteus 28:19-20) Christus se onderneming aan hulle? Hy sal hulle nie alleen die taak laat aanpak nie, want Hy sal by hulle wees tot aan die voleinding van die wêreld. 'n Opdrag en onderneming wat ook geld vir jou, my en elke gelowige daarna!
 
Funksioneer jy as 'n gestuurde van Jesus? Loop jou mond oor van die goedheid van God, die liefde van sy Seun en die teenwoordigheid van die Heilige Gees? Of is jou mond bevrore sodat jy geen getuienisinset meer in die wêreldoseaan kan gee nie? Begin dan om jou rondkyk. Dalk ken jy iemand wie se tong nie net vasgevries is nie, maar wat vasgevries het in die oseaan. Jou een woord van bemoediging, sorg of vertroosting, kan dalk net die ys kraak. Begin praat, man!
 
Kan 'n mens hierdie grootse taak, alleen aanpak? Nee, onmoontlik! As geroepene en gestuurde het jy iemand by jou nodig wat met waarheid langs jou leef, hulp kan verleen en jou bekragtig met dit wat nodig is. Net die Heilige Gees, die belofte van die Vader, kan jou toerus met krag uit die hoogte (Lukas 24:49). Vra die Vader daarvoor! Hy gee graag. (Lukas 11:13)
 
Gebed: Liefdevolle Vader, laat die krag van u Gees, my tong los smelt in daardie tye waar dit bevrore stom wil bly. Amen.