Gawes van die Drie-eenheid aan die mens

Carina Francke
 
“Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee. Daar is 'n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is 'n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.” 1 Korintiërs 12:4, 1983-vertaling
 
Die Drie-enige God wat ons aanbid en dien, oorlaai ons met goedheid en guns. Ons mag Hom Vader noem, sy Seun as Jesus, ons Verlosser aanspreek, en die Heilige Gees as ons Trooster omarm. Hulle skenk gawes aan gelowiges sodat ons as die Kerk, dienswerk kan verrig en ons rol as Jesus “gestuurdes” effektief kan uitvoer.
 
Die gawes van die Vader
Die Vader gee aan jou lewe. Jy is uit stof gevorm en sy lewensasem in jou, maak jou mens. (Genesis 2:7) Jy is nie maar net “toevallig” nie, jy was deel van sy raadsplan toe jy gebore is! Hy gee ook sy eniggebore Seun, die hart van sy gawes, aan jou en my. Hy is die Verlosser vir 'n gevalle mensdom. (Johannes 3:16) 
 
En dan kom Hy nog boonop en skenk genadegawes sodat jy en ek betekenisvolle lewens kan lei deur te dien. Die gawes is dinge soos: profesie, lering/onderrig, vermaning, om te gee en om hulp te verleen. Gaan eenkant, lees Romeine 12:6-8 biddend. En as jy nog nie weet wat jou gawe is nie, vra Hom vir insig en leiding. Maar onthou, dan teken jy aan om dienswerk te verrig.
 
Die gawes wat Jesus gee
Jesus gee Homself as verlossingsgawe aan die mens en word so die Gewer van die ewige lewe vir jou en my. (Johannes 5:38-40) Om dit as wins te kon verkry, moes Hy sy eie lewe opoffer en sy bloed laat vloei sodat ons kan leef. (Johannes 10:17-18)
 
Hy gee gawes van bediening aan die Kerk na sy hemelvaart – apostels, profete, leraars,evangeliste, pastore. (Efesiërs 4:11-12) Om wat te doen? Om gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk. Ja, Hy gebruik mense, ook vir jou en my, om hierdie take te verrig. Waar pas jy in? 
 
Die gawes wat die Heilige Gees gee
Baie belangrik: Die Vader en Seun gee gesamentlik die Heilige Gees as gawe aan ons. (Handelinge.2:33)
 
Die Heilige Gees deel gawes aan gelowiges uit soos wat Hy wil. Dit is kragwerkinge van die Gees, en is beskikbaar vir elke gelowige. Dit bring die liggaam van die kerk byeen en versterk hulle wanneer hulle bymekaarkom. (Spirit Filled Life Bible, p2023) Het jy al ooit 'n woord van wysheid of kennis of bemoediging ontvang? Of die gawe van genesing en die onderskeiding van geeste beleef? Nie? Lees oor hierdie en ander gawes in 1 Kointiërs 12:7-11

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U nietige onvolmaakte mense gebruik om vanuit u Geeskrag met u werk op aarde voort te gaan. As enige van u kinders passief hieroor staan, wil U nie asseblief die oortuigingswerk doen nie? Amen