Carina Francke 

Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. … Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het. Markus 16:15,20, 1983-vertaling
 
Op 11 September 2001 word Amerika en die wêreld tot stilstand geskok deur die aanval op die Twin Towers. Mense het paniekbevange weggehardloop. Een groep het weg van die torings gehardloop en 'n ander groep na die torings toe. Die wat weggehardloop het, het hul eie lewens probeer red; die wat na die gebou gehardloop het, was brandweermanne wat ander se lewens probeer red het.
 
Hierdie gebeure het my inwaarts laat kyk en 'n vraag kom plant: In watter rigting hardloop ek op my geestelike reis saam met mense? Weg van hulle, omdat ek nie werklik omgee wat word nie? Bang dat ek die spreekwoordelike koue skouer sal kry as iemand dalk deur my lafhartige poging sien? Of is ek deel van 'n (geestelike) brandweerspan wat met hulle Woordkennis, vaardighede, erns en opregtheid, onder die leiding van die Heilige Gees alles in die stryd werp om by onseker, verlore en bevreesde mense uit te kom? Dít praat mos van omgee en liefde.
 
En dit is presies wat die eerste gemeente gelowiges voortdurend gedoen het. Hulle getuienis, eensgesindheid, veranderde lewens, mededeelsaamheid en getrouheid, was sigbaar vir almal wat hulle paaie gekruis het. Hulle het Jesus op sy Woord gevat en “… die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.” (Markus 16:20, 1983-vertaling)
 
'n Toegewyde brandweerspan van hul Leier, Jesus Christus!
 
G’n wonder nie, dat die “vuur” van vervolging ’n aanslag op die span se toegewydheid geloods het nie. Stefanus, vol van die Heilige Gees en wysheid, word gestenig omdat hy van die Waarheid getuig. (Handelinge 7) Hierna verwoes vervolgers die gemeente, sleep manne en vroue uit hul huise en gooi hulle in die tronk. Die verstrooide gelowiges het egter 'n span gebly. Helder in hulle geheue het die opdrag van Jesus ge-ego: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” (Markus 16:15) Hulle het gehoorsaam.
 
Uit die opgetekende kerkgeskiedenis weet ons dat die vervolging van die Kerk nog nooit opgehou het nie. En tog groei hy steeds – al moet hy op sommige plekke ondergronds funksioneer. Maar selfs in hierdie omstandighede, bly Christus steeds die Hoof daarvan en bemagtig en versterk die Heilige Gees steeds die brandweerspan van die Kerk. Hy is ons waarborg en seël dat elke belofte wat God in die Woord aan ons beloof het, vervul sal word. Gelowiges hoef nie moed op te gee, of sonder hoop te leef nie, want die Heilige Gees is altyd teenwoodig: “Die Kerk is deur die Heilige Gees versterk en die ledetal het toegeneem.” (Handelinge 9:31) 'n Waarheid wat vandag steeds van krag tot krag gaan!
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u Woordbeloftes wat vir nou en ewig waar bly. Maak assblief my oë en ore oop om die Heilige Gees se stem en leiding klokhelder te hoor. Stel dan hierdie brandweerman/-vrou in staat om as spanlid op sy stem te reageer. Amen