Carina Francke 

Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.  2 Timoteus 1:7, 1933/1953
 
Alhoewel slawerny in alle lande onwettig is, is eietydse slawerny regoor die wêreld 'n ontnugterende realiteit. Die Verenigde Nasies raam dat ongeveer 27 tot 30 miljoen mense teen hulle wil, tans in talle vorme hiervan vasgevang is. Slawe leef permanent in vrees. Vir straf, mishandeling, weerhouding van kos, liggaamlike leed, eensame opsluiting, en, en ... Die kanse om 'n vry mens te word, is byna nul. Wat 'n onreg teenoor God se skepping!
 
Uit 'n vorige dagstuk weet ons dat weergebore mense kinders van God is, en nie meer slawe van sonde, mense of vrees nie. God se Gees is aan die gelowige gegee en dit maak ons sy kinders, en bevry ons van vrees. Gelowiges is vry mense! (Romeine 8:15)
 
Maar het jy geweet dat talle gelowiges in ons moderne eeu ook slawe is? Weliswaar nie van mense nie, maar van vrees. Wat veral sterk na vore tree as iemand geïntimideerd voel. Paulus se brief aan Timoteus spreek hierdie vrees in geen onduidelike taal aan nie: “Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.” (2Timoteus1:7)
 
Die Amplified Bible omskryf hierdie vreesagtigheid as lafhartigheid, ineenkrimping, om weg te skram. Die KJV Study Bible koppel die woord aan iemand wat van 'n geveg af wegvlug. Of dalk is die beter omskrywing dat iemand onwillig is om verantwoordelikheid te aanvaar. Amper soos die jong Timoteus aan wie hierdie woorde gerig is.
 
Die realiteit: wanneer ons toelaat dat mense of omstandighede ons intimideer, neutraliseer ons ons effektiwiteit in God se diens. Is dit wat jy wil hê – oneffektiwiteit in diens van jou Skepper omdat jy vreesagtig is?
 
Hoe gee ons hierdie onsigbare vreesmeester wat nie van God af kom nie, die trekpas?
 
Met die gees van krag, liefde en selfbeheersing – die Heilige Gees! Maak hierdie drie waarhede in jou hart vas: Handelinge 1:8 verklaar dat die Heilige Gees in die gelowige woon en dat Hy krag in jou “genereer” om jou vrees te oorkom en jou vyand die loef af te steek. Romeine 5:5 herinner ons daaraan dat God sy liefde in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Liefde is dus jou wapen teen vrees sodat jy effektief kan dien. En selfbeheersing? Die ryk betekenis van die woord word in Engels vertaal met sound mind. Wat onder andere die betekenis dra van 'n kalm, goed gebalanseerde bewussyn, selfdissipline en selfbeheersing. Al wat jy moet doen, is om dit te beoefen.
 
Gebed: Vader, in diep dankbaarheid vir die inwoning van die Heilige Gees in my lewe, buig ek voor U neer. Sonder sy teenwoordigheid en werking in my lewe, sal ek blind rondtas op soek na 'n sinvolle, Godverheerlikende lewe. Kweek sensitiwiteit in my gees om die Heilige Gees se stem van my eie te kan onderskei. Amen