Carina Francke 

En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak. Galasiërs 4:6-7, 1983-vertaling
 
Ek het die oproep net na ontbyt ontvang. 'n Maatskaplike werker doen navraag oor tydelike pleegsorg vir twee peutersussies wat mid-Julie met net elk 'n kortmoufrokkie en 'n doek, in 'n huurkamer gevind is. My eerste gedagte was my kinderlose vriendin en haar man wat aanneming oorweeg. Dalk sal die pleegsorg idee vir eers byval by hulle vind? Laatmiddag het sy laat weet: “Ons sal graag help totdat omstandighede by hulle ouers verbeter.” Omstandighede het egter nooit verbeter nie, en albei biologiese ouers is 'n jaar of wat daarna, kort na mekaar oorlede. Die pleegouers word toe die ouers van twee poplappe. Saam-saam het hulle as gesinnetjie begin leer van ouerskap, dissipline, respek en vergifnis. Maar liefde, die dieper, bindende waarde, was die Godgegewe suksesknoop wat ouers en kinders saamgebind het. Om nooit weer in die steek gelaat te word nie. Die pappa is onlangs oorlede en het 'n erfporsie aan sy twee kinders nagelaat.
 
In Galasiërs 4:5-7 lees ek ook van aanneming, maar hiervoor moes 'n loskoopprys betaal word – ons was immers slawe van sonde! Jesus moes sterf sodat ek en jy en elke mens op aarde, as kinders van God aangeneem kan word op grond van ons geloof in Jesus Christus. Ons was immers slawe van sonde! En daarby kry ons 'n groot pasella, 'n Goddelike geskenk! God stuur die Gees van sy Seun om in jou en my lewe te kom huismaak, en Hy roep in ons uit: ”Vader!” Hoor jy? “Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.”(Galasiërs 4:7)
 
Iemand wat nie weet aan wie hy behoort en waarvandaan hy kom nie, worstel dikwels ook om te besluit hoe en waarheen vorentoe. Die wedergebore gelowige hoef egter nie hiermee te worstel nie, want die Heilige Gees wat sy “weer geboorte” bewerkstellig het, het ook in hom kom huismaak en kan sy kindskap sonder twyfel bevestig: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” (Romeine 8:16) Jy hoef nie meer te wonder oor jou nou, of jou toekoms nie; jy is van jou slaafmentaliteit gestroop; jy is nou 'n koningskind – 'n kind van die enige God!
 
Dalk is jy ook so nuuskierig soos ek: Wat gaan ek saam met Jesus erf? In die woorde van Petrus is dit “die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word." (1 Petrus 1:4) Dink aan die koninkryk (Matteus 25:34 & Jakobus 2:5); 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde waar die wil van God heers (2 Petrus 3:13); die opstanding uit die dood en die ewige lewe (Johannes 6:39-40) En dit is maar 'n druppeltjie in die emmer!
 
Gebed: Abba Vader, wat 'n voorreg om U elke dag beter te leer ken. Dankie vir u onbeskryflike genade om van 'n skepsel in slawerny, 'n kind in die Koning se paleis te maak. En dan word ek nog boonop ook 'n mede-erfgenaam van u Seun. Voorwaar 'n geseënde! Amen