Carina Francke 

Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.  Efesiërs 1:13-14, 1983-vertaling
 
En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Efesiërs 4:30, 1983-vertaling
 
Teken hierdie prentjie in jou gedagte: Voor jou lê 'n opgerolde vergeelde perkamentrol, verseël met 'n blou embleem, waarop voorletters duidelik leesbaar is. Versigtig breek jy die die seël oop en rol dit stadig af, bang dit kan beskadig. Sien met elke afrolaksie hoe netjiese swart sierletters, lyntjie vir lyntjie, woorde word en ontvou in 'n boodskap. Dan lê die dokument oop en bloot voor jou. Jy lees: “Die draer van hierdie dokument het reeds 'n gedeeltelike bemaking aan hom ontvang. Hy sal met verloop van tyd die res van die erfporsie in ontvangs kan neem. Hierdie dokument dien as waarborg daarvoor.”
 
Die brief sluit af met dieselfde blou embleem as waarmee dit verseël is.
 
Hierdie denkbeeldige brief wil illustreer dat jou geloof in Christus, sekerhede in plek sit.
 
Die Heilige Gees is ons Seël: “In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as eiendom van God beseël.”(Efesiërs 1:13)
 
Jy kan dus verseker weet dat jy “behoort” – dat jy 'n kind van God is. En daarom ook erfgenaam. Hy is ook die seël op God se belofte dat Hy alles sal uitvoer wat Hy beloof het. Ook dat daar 'n dag van verlossing sal aanbreek en jy die ewige lewe gaan beërf. Maar tot dan: “… bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” (Efesiërs 4:30)
 
Die Heilige Gees is ook ons Waarborg: “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos.” (Efesiërs 1:14)
 
“Waarborg” (arrabon) is besigheidsterminologie wat verwys na 'n vooruitbetaalde deposito, wat as eerste paaiement afbetaal word op 'n item wat gekoop word. Dit is die waarborg dat daardie item by die laaste paaiement ten volle die eiendom van die persoon sal word. So ernstig is God oor jou en my, dat Hy die Heilige Gees aan ons gee as waarborg (arrabon) van die toekomstige vreugdes en uiteindelike saligheid wat in die hemel op ons wag. Jy kan dus gerus wees: woorde uit God se mond, is altyd “Ja” en altyd “Amen”.
 
Die Life Application Bible (nota p2131) stel dit so: “Die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons, demonstreer die egtheid van ons geloof, bewys dat ons kinders van God is en verseker ons van die ewige lewe. Sy krag werk in ons om ons nou te verander/transformeer; en wat ons nou ervaar, is 'n voorsmakie van die algehele verandering wat ons in die ewigheid sal ervaar.
 
Gebed: Vader, my gees jubel oor die liefdevolle werk van die Heilige Gees in my lewe. Mag ek vra dat die Gees toenemend my “ek”, kleiner sal laat krimp sodat my gees en hart net u blyplek kan wees. Amen