Carina Francke 

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27 En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Romeine 8:26-27, 1983-vertaling
 
'n Vriendin se man is tydens die pandemie met 'n ernstige beroerte in die hospitaal opgeneem. Hy was vir die duur van sy hospitaalverblyf in 'n koma en geen besoekers is toegelaat nie. Gebed was al “aksie” wat sin gemaak het, maar die “regte” woorde vir die “regte” gebed, het stom geraak. Al wat jy hoor, is jou eie gesug en gekreun. Geen gebed in woorde nie.
 
Dalk was jy ook al in so 'n situasie. Jou woorde is onsamehangend, maak geen sin nie en kommunikeer niks verstaanbaar van die stoeigeveg in jou kop en hart nie. Jy hou op om selfs te probeer bid. Maar gou laat jou gesug en gekreun jou voel soos 'n swak of onbeheersde gelowige. In sulke wanhoop oomblikke moet hierdie Woordbelofte vir jou 'n realiteit word: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” (Romeine 8:26)
 
Verstaan jy dit? Die Heilige Gees wat in en by jou is, hoor jou gesug. Trouens, Hy hoor nie net nie, maar pleit saam met jou, en vir jou, by die Vader. En raai hoe? Met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie! God ken die mens deur en deur – van kroontjie tot toontjie – daarom is die Heilige Gees se pleidooie sonder woorde namens jou en my, altyd aanvaarbaar vir God, want dit stem altyd ooreen met sy wil. Anders gestel: Hy bewerkstellig dat jou gesug, gebede en geroep “reg” by God uitkom. “En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.” (Romeine 8:27)
 
Wanneer jy weer daardie oomblikke van magteloosheid en emosievolle stomheid in jou gebede ervaar, onthou hierdie Woordwaarheid. Soos wat Jesus ons intersessor in die hemel is (Hebreërs 7:25), so is die Heilige Gees ons intersessor op aarde in ons hart. (Romeine 8:27).
 
Gebed: Hemelse Vader, vergewe uit u onmeetbare genade elke twyfeloomblik en platgeslane geloof wat my so dikwels laat vergeet dat U IS, dat Jesus Christus IS en dat die Heilige Gees IS. Amen