Xanthe Hancox 

Ek dank my God elke keer wanneer ek aan julle dink. Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, juis hiervan oortuig dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus. Filippense 1:3-6, 2020-vertaling
 
In feitlik elke kultuur, groep of gemeenskap regoor die wêreld is saameet 'n belangrike deel van samehorigheid en feesviering. Of dit nou pizza en springmielies tydens 'n filmaand by die huis is, 'n koek wat ons in die kantoor met ander deel, of 'n oordadige feesmaal tydens 'n troue, om kos met mekaar te deel bevorder ons verbondenheid aan mekaar.
 
Die aand voor sy dood, het Jesus saam met sy dissipels geëet. Hy het die brood en wyn van daardie ete geneem en 'n spesiale opdrag gegee, sodat wanneer sy dissipels weer saamkom hulle dieselfde kon doen en alles wat Jesus vir hulle gedoen het, kon onthou.
 
Dit is na hierdie hegte gemeenskap van God se kinders, die gemeenskap wat Jesus deur sy eie bloed gevorm het, waarna Paulus in hierdie gedeelte verwys. Die Griekse woord wat hier met deelname vertaal word, kan ook met gemeenskaplikheid of verbondenheid vertaal word.
 
Dit is hierdie verbondenheid wat na die Pinksterfees die kerk in Jerusalem verenig het. (Lees Handelinge 2:42)
 
Paulus ('n Jood) en die Filippense (hoofsaaklik nie-Jode) is deur die evangelieboodskap en ook deur die verkondiging daarvan, verenig. Soos vir Paulus en die Filippense, is alle gelowiges se deelname aan die evangelie gefokus op hierdie missie: die verkondiging van die evangelie aan alle nasies. Die evangelie verenig ons as een gemeenskap en versprei ons dan om steeds in verbondenheid die goeie nuus te verkondig.
 
Dank die Here vandag vir al jou vennote in die evangelie. Dank Hom vir jou vriende wat miskien nie net vir jou fisiese behoeftes bid nie, maar ook dat jou geloof in die Here elke dag sal verdiep.
 
Gebed: God van blydskap en vrede, dankie vir die oorvloedige genade wat U ons deur Jesus gee. Dankie dat U ons nooi om deel van u familie te wees. Dankie vir vriende wat my aanspoor om die goeie nuus met ander te deel. In Jesus se Naam. Amen