Xanthe Hancox 

Juig tot eer van die Here, o ganse aarde; wees vrolik, jubel en besing Hom, besing die Here met begeleiding van liere, op die lier saam met die klank van sang, op trompette saam met die klank van ramshorings. Juig voor die Koning, die Here. Psalm 98:4-6, 2020-vertaling
 
As kos die manier is hoe ons gemeenskappe bou, is musiek die manier hoe ons aan onsself uiting gee.
 
Dit is ook nie net die geval met mense nie. Musiek was van die begin van tyd deel van die skepping. Van die melodieuse sang van die nagtegaal tot die geskree van 'n hadeda, van die geruis van 'n waterval tot die geluid van druppels wat na die reën van die bome af drup – die skepping is nooit stil nie.
 
Met al die melodieë en harmonieë, ritme en refreine is musiek 'n gepaste uitdrukking van aanbidding. Aanbidding van die heilige, almagtige God, die Skepper, herinner ons aan wie God is en wie ons in ons verhouding met Hom is.
 
Psalm 98 is 'n uitdrukking van jubelende, vreugdevolle aanbidding. Die klank van die ramshoring laat my altyd aan die vuvuzelas van die 2010-FIFA-Wêreldbeker dink. Met die blaas van trompette, mense wat hande klap, sing en juig, word al die wonderlike dade van God gevier – en die ganse skepping sluit hierby aan!
 
Ons lewens moet elke dag van ons vreugdevolle aanbidding van God getuig. Ons lewens is die musiek wat die verhaal vertel van die verlossing en hoop wat ons in Christus het. Deur ons lewens kan ander die vreugdevolle musiek hoor van wat 'n verhouding met 'n liefdevolle God alles behels. En hopelik sal hulle ook deel van daardie musiek wil wees.
 
Hoe klink die musiek van jou lewe vandag vir die Here?
 
Gebed: Here, U komponeer die melodieë en harmonieë van ons lewens, en U nooi ons uit om ritmies saam met U te beweeg. Gee dat ons harte met 'n lied van blydskap gevul sal word en dat die klank van ons lewenslied helder en duidelik sal wees. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen