Xanthe Hancox 

Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie 'n wet nie. Almal wat aan Christus Jesus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig. Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly. Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.  Galasiërs 5:22-26, 2020-vertaling
 
'n Aantal jare gelede is 'n brief gedateer 19 Augustus 1945 wat CS Lewis aan 'n sekere mev Ellis geskryf het in 'n tweedehandse boek ontdek. Die handgeskrewe brief is ontdek in 'n eksemplaar van "A Problem of Pain" en in dié brief skryf CS Lewis oor die konsep van blydskap.
 
"Real joy", skryf hy, “… jumps under ones ribs and tickles down one’s back and makes one forget meals and keeps one (delightedly) sleepless o’ nights”. Is dit nie wonderlik nie dat drie jaar later, in sy memoires "Surprised by Joy: The Shape of My Early Life", wat oor sy bekering tot die Christendom handel, brei hy verder uit oor blydskap.
 
In hierdie memoires, skryf hy dat daar baie duidelik tussen blydskap en geluk en plesier onderskei moet word.
 
Bybelse blydskap is 'n vrug van die Heilige Gees, 'n bewys van God se liefde wat in ons groei. Vir 'n gelowige in Jesus Christus is blydskap meer as net 'n vlugtige reaksie op gelukkige tye. Blydskap word in al die seisoene van ons lewens en in alle omstandighede gekweek, gesnoei en geoes. Jesus het die fondament van blydskap vir ons gelê toe Hy ons bevry het van al die pyn en lyding van sonde en 'n nuwe lewe vir ons moontlik gemaak het. Blydskap oor dit wat Jesus gedoen het, is 'n belangrike deel van wie ons in Christus is. Dit is die blydskap waarop ons aanspraak maak. Dit is die blydskap wat ons beoefen.
 
Gebed: Here, blydskap is 'n geskenk wat U deur u dood en opstanding aan ons gee. Gee asseblief dat hierdie gawe van blydskap toenemend in ons sal groei sodat die vrug van u Gees in ons duidelik sal wees. Ons bid dit in die vrede, liefde en blydskap van Jesus Christus. Amen