Vers n dag - 29 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Moeilikhede hou voordeel in
Carina Francke
Skrifgedeelte: 2 Kor 1: 3- 6
"(Hy is die Vader) wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. " (2 Kor 1:4 OAV)
Daar is een realiteit van die lewe waarvan niemand kan ontsnap nie: moeilikhede. Een mens wat hiermee goed bekend was, is Paulus van die Bybel – 'n mens kan amper sê moeilikheid was sy metgesel. Gevare van rowers, van volksgenote, van vals broers, van stormsee en die nag; swaarkry - soms was hy honger, ander kere sonder kos, nagte sonder slaap, skuiling of bedekking teen koue; hy was in die tronk (agv sy geloof), is geslaan, met klippe gegooi en het skipbreuk gely (2 Kor 11:23-28) as van die moeilikhede wat hy moes trotseer.
En tog kry hy dit reg om sin te maak uit al hierdie moeilikhede. Trouens, hy sien dit as 'n voordeel (dalk noodsaaklik?) om moeilikhede te hê. "Belaglik!", hoor ek myself dink, "watter regdenke mens soek vir moeilikheid?!" Totdat ek lees waarom hy so dink.
In die eerste plek bring moeilikhede mee dat God ons troos. "Troos" beteken om langs iemand te staan om te help, te vertroos en te bemoedig. Dit beteken dus dat God in jou moeilikhede reg langs jou staan en presies weet wanneer Hy moet bemoedig of wanneer Hy moet help of wanneer jy net troos nodig het. Dit beteken egter nie dat ons moeilikhede oornag gaan verdwyn nie, maar wel dat ons krag ontvang en hoop kry om ons moelikhede te hanteer en oorwinnend anderkant uit te kom. Kan jy glo? Die Skepper van die heelal help jou!
In die tweede plek – (hou vas jou sitplek!) – word ek en jy (wat ook moeilikhede beleef!) instrumenteel om op ons beurt langs ander mense in te skuif en hulle te vertroos, te bemoedig en te help.......want ons het eerstehandse ervaring daarvan! Op hulle beurt kan hulle later weer ander help en dié ander weer nóg ander.....!
Besef jy wat dit beteken? God en mense dra by tot jou vertroosting!
In die derde plek toets moeilikhede ons geloof (in God ). As dit die toets geslaag het, stel dit ons in staat om te volhard en as ons end-uit volhard, sal ons: "...tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming."(Jak 1:4 NAV)
En so word die vertroosting van God 'n krag wat van mens tot mens oorgedra word. Wat 'n voorreg! Wil jy nie jou poog om jou moeilikhede vanuit God se vertroosting te deurleef nie?
Gebed: Hemelse Vader, ek bely vandag dat ek hartlik sat is vir moeilikhede in my lewe en dat dit soms vir my voel asof ek handdoek wil ingooi. Maar omdat U Woord leer dat ek juis deur my probleme tot geestelike rypheid kan kom en daardeur ook U vertroosting in ander mense se lewens kan bring, vra ek dat U my help om my fokus te verander van "moedeloos en lam" na "hoopvol en bruikbaar". Amen