Vers n dag - 30 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Maak Hom groot!
Carina Francke
Skrifgedeelte: Jesaja 9:5,6 (OAV en NAV)
"Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op Sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader,Vredevors."(v5 AOV)
"Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal opdie troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg." (v6 NAV)
Ons het aan die begin van hierdie reeks gesê dat ons die ware betekennis van die Kersgety wil herontdek sodat daar in ons harte 'n simfonie van lof en hoop oopgebreek kan word oor Sy teenwoordigheid in ons lewens.
Hierdie spesiale feestyd het as middelpunt die Koning van alle konings wat mens kom word het – JESUS CHRISTUS! Hy is Emmánuel, God met ons, die Verlosser, die Saligmaker, asook elke benaming soos beskryf in vers 5 hierbo.
"Maak Hom groot! Hy is dit waardig!"
Sy koms aarde toe beteken dat die kettings van sonde, ongeregtigheid, siekte, geestelike blindheid en doofheid, vir altyd in ons lewens verbreek kan word. Ons hoef nie in kerkers van swaarkry, eensaamheid, bitterheid, selfhaat, en, en, en opgesluit te sit nie – ons kán daardeur en daaruit, want: "As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees." (Joh 8:36)
En dit skree vir jou: "Maak Hom groot!"
Dit beteken verder dat elkeen wat in God en Jesus Christus glo en bely, waardig is om genoem te word: "Kind van God, erfgenaam van God en mede erfgenaam van Christus." (Rom 8:17); "Priester van die Here, dienaar van ons God." (Jes 61:6 ); "'n Planting van die Here tot Sy verheerliking." (Jes 61:3)
Dit verdien jou nederige uitroep: "Ek loof U! U is groot!"
Ons het in hierdie reeks ook ontdek dat ons ten spyte en te midde van ons probleme en swaarkry, steeds vir ander mense iets kan beteken. As ons dit doen, vervul ons 1 Petr 2:9: "(ons is) ...die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat (ons) uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig." (1Petr2:9). En die uitwerking op ons? Ons word daardeur opgebou.
Sien jy wat is ons besig is om te doen? Deur ons lof aan Hom word ons deel van die stemme en instrumente op aarde wat in verwondering uitroep en bevestig: "U regeer, U vestig U koninkryk en U hou dit in stand deur reg en geregtigheid van nou af en vir altyd!"( Jes 9:6).
Ek loof U vir u bemoeienis met my. U is onbeskryflik groot! U regeer vir ewig!
Gebed: Hemelse Vader, baie dankie dat U altyd by en in my as u kind teenwoordig is. Dit laat my sprakeloos van verwondering dat die Here, die Almagtige, vir my, 'n blote mens, aarde toe gekom het! Laat my nooit vergeet dat ek bestaan omdat "U Is" nie! Amen.