Vers n dag - 28 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Sprinkane, Woestyne....en God
Carina Francke
Skrifgedeelte:Joël 2; Hebr 13:5,6
As jou voortbestaan daarvan afhang dat jy 'n swerm sprinkane moet uithou uit jou koringland wat ryp in die oes staan, sal jy hulp nodig hê om hulle te probeer afweer. En al probeer jy, is dit onmoontlik om jou oes te red van die oorweldigende aanstormende oormag. Joël 2:3b beskryf dit as volg: "Voor die koms van die sprinkaanswerm is die veld soos die tuin van Eden; as hy verby is, is dit 'n onbewoonbare woestyn. Hy laat niks oorbly nie."
Hier teen die einde van die jaar voel 'n mens soms asof 'n swerm sprinkane jou lewe binnegeval het en dat jy niks daaraan kan doen nie. Jy voel later kaalgevreet en bevind jou in 'n woestyn sonder water. Dit bly natuurlik jou keuse om dit te bly glo en alleen aan te sukkel, maar God self sê:"Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." (Hebr 13:5,6) Waarom dit nie glo en Sy hulp inroep nie? Dis natuurlik nie 'n waarborg dat sprinkane nooit weer ons menswees gaan aanval nie, maar Hy is saam met ons in ons woestyntyd – ons is nie alleen nie.
Die beeld van die sprinkane word in Joël gebruik om God se oordeel oor 'n sondige Israel te beskryf, maar dit word ook uitgebrei om na die laaste oordeel oor die mens te verwys. Ons sou maar 'n bra doellose, hooplose, benoude en vreesagtige spul mense gewees het as vretende sprinkane en oordeel al was waaruit die lewe bestaan het, maar die Here is ons hoop: "Kom met julle hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie, Kom terug na die Here julle God toe."(Joël 2:12,13)
Waarom sou Hy dit wil doen? "Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep." (Joël 2:13. ) Hoor jy? Jy hoef nie met vrees oor vandag of môre te leef nie; die Here wag met 'n genadige en jammer hart dat jy Sy hulp vra. Sy geduld en liefde wil jou te help snel. Maar jy moet na Hom toe terugkeer; om Sy hulp skree. Hy wil jou nie laat rondstrompel in jou selfgemaakte of omstandigheidswoestyn nie, Hy wil voorspoed gee (v14), betyds reën gee, jou vergoed vir die sprinkaanswerm wat verteer het (v25) en vir jou genoeg gee om te eet (v26) – fisies en geestelik. Maar jy moet met jou geskeurde hart na Hom toe terugkeer sodat Hy dit kan heelmaak!
Dalk is jy so neergeslaan deur die dinge wat die afgelope jaar jou lus vir die lewe afgevreet het dat jy nie meer kán hoop nie; nie meer wil glo nie; nie weet hoe om na Hom toe terug te keer nie. Sê dan hardop vir jouself en hou aan daarmee totdat dit 'n werklikheid in jou gees word: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen? (Hebr13:6) En al glo jy dit nie nou nie, die Woord leer: "Hierdie vyand uit die noorde sal Ek wegvat van julle af, Ek sal hom wegjaag na 'n droë en verwoeste land toe." (Joël 2:20) God is jou hoop!
Gebed: Here, ek wil nie meer lyk of voel soos 'n kaalgevrete stuk land nie, daarom bely ek my klein geloof in U. Net U kan my help – selfs in hierdie klein-geloof poging om na U toe terug te keer. Ek wil groen wees en baie vrugte dra. Ek wil bly wees en juig tot eer van die Here, want U doen groot en wonderlike dinge! Ek weet dit is net U wat my woestyn in 'n fonteinland kan verander! Amen.