Vers n dag - 25 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: 'n Omgekeerde hart
Carina Francke
Skrifgedeelte: Hosea 11
"My liefde brand te sterk." Die OAV lees: My hart is omgekeer in my." (Hos 11:8b) Wat 'n passievolle verklaring van liefde! Vir enige verliefde persoon klink dit soos musiek in sy ore – musiek wat nooit moet ophou nie.
Hierdie woorde is egter nie dié van 'n verliefde persoon nie, maar van iemand wat so innig liefhet dat selfs sy geliefde se aanhoudende afdwaal-hart hom nie kan beweeg om sy rug op haar te keer of haar te straf nie. Al loop sy agter ander geliefdes aan, al het sy vergeet dat hy haar in sy arms gedra en leer loop het en weier om te erken dat hy nog steeds vir haar sorg, wil hy haar nie prysgee nie! Sy liefde is sterker, opregter en inniger as wat 'n mens s'n kan wees – dit is 'n brandende liefde, 'n liefde wat sy hart omkeer, want: "Ek is God, nie 'n mens nie."(v9)
Baie min het verander sedert hierdie verhouding tussen God en sy volk neergepen is. 'n Soortgelyke scenario speel hom af vandag: ten spyte daarvan dat God sy liefde vir ons bewys het deur Jesus aarde toe te stuur om vir ons te wys hoe ware liefde lyk, nuk ons nog steeds om te doen wat ons wil. Ons maak ons eie lewensplanne, vra nie Sy wil nie, kies genot bo God en prop ons dag vol dinge wat "voordelig" is vir ons toekoms, maar maak bitter min tyd om met Hom verhouding te bou.
En dit is tog waaroor die lewe gaan – verhoudinge. Geen verhouding kan oorleef as daar nie wedersydse omgee is nie; geen verhouding kan diepte hê as jy nie tyd daarin belê nie en geen verhouding kan sonder liefde bestaan nie. Jy sien, liefde is die kooltjie wat die vuur aan die gang hou; die naelstring wat suurtof na onvolmaakte mense deurvoer. Jesus het dit geweet, daarom is Sy opdrag: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (Matt 22:39). Hy het egter ook geweet dat liefde vir God die beginpunt van hierdie liefde na mense toe is: "Die eerste gebod is....die Here, onse God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Dit is die eerste gebod." (Mark12:29-30 NAV)
God se liefde vir jou is so sterk dat Hy ten spyte van jou dwaal- en twyfelhart steeds begeer om jou te beskerm en vir jou te sorg. Hy weet dat die pad wat jy so dikwels kies, 'n pad is wat onnodige pyn, hartseer en alleenheid bring. Daarom sê Hy dat "Hy medelye met jou het."(v8 OAV) En sy medelye met jou, spel 'Genade'; dit sê 'Bekeer jou '(v5); ' Wees getrou aan My'.
Ons het met God te doen, die Heilige wat by ons is." (v9 NAV) Met die Een wat sê Hy sal soos 'n leeu brul en sy kinders sal met ontsag na Hom toe kom." (v10). Hoor jy Sy gebrul as Hy sê: "My liefde brand te sterk." "My hart is omgekeer in my?"
Gebed: Vader, my hart is omgekeer in my omdat my liefde nie net op U gefokus is nie. Daar is soveel dinge wat my aandag in beslag neem dat ek soms vergeet dat dit U is wat vir my sorg en dat U my elke dag kos gee. Vergewe my daarvoor asseblief. Help my om my liefde vir te herontdek. Amen