Vers n dag - 24 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Van Verbitterd na Betrokke
Carina Francke
Skrifgedeelte: Rut 2, 3, 4 (NAV)
Ons het gister gesien watter uitwerking bitterheid op 'n mens kan hê en dat jou genesing opgesluit lê in jou besluit om te vergewe en te vergeet.
Daar is egter nog twee dinge wat my opval in die verhaal. God se onsigbare betrokkenheid in Naomi en haar skoondogter se lewens en Naomi wat betrokke raak by haar skoondogter se lewe.
Rut vra toestemming by haar skoonma om are in 'n land te gaan optel by "iemand wat my sal toelaat om dit te doen"(Rut 2:2) en sy beland toevallig in 'n familielid van Naomi, naamlik Boas se lande. Toevallig? Nee, in God se plan gebeur niks toevallig nie; Sy sorg en voorsiening lê in hierdie gebeure. Vir Naomi gaan hierdie oënskynlik doodgewone gebeure uitkoms bring en vir Rut beloof dit 'n nuwe lewe in haar nuwe vaderland. Haar lojaliteit teenoor haar skoonma wen haar die guns van Boas sodat hy ook God se seën oor haar uitspreek omdat "sy onder die vleuels van God kom skuil het." (Rut 2:12)
Die Here is ook op 'n onsigbare wyse in jóú lewe betrokke, maar jy kan nie passief sit en wag dat dinge in jou lewe verander nie, jy moet die eerste tree gee vanuit 'n opregte hart.
Toe Naomi hoor dat haar skoondogter goed deur die eienaar van die land behandel is, sien sy die guns van die Here oor hulle lewens raak. Sy sien Boas as God se voorsiening vir hulle. Sy raak hierna meer intens betrokke by haar skoondogter se lewe en bedien haar van raad. Haar fokus verander: dit gaan nou nie meer oor haar eie hartseer en verlies nie, maar om vir haar skoondogter 'n toekoms te verseker. "My dogter, dit is my verantwoordelikheid om vir jou 'n heenkome te soek sodat dit met jou goed kan gaan." (Rut 3:1)
Sy is ook nie haastig om dinge ryp te druk nie: "Wag maar en kyk wat nou gaan gebeur, my dogter." (Rut 3:18). Sy het die sekerheid dat die Here wat tot nou toe hulle koers bepaal het, ook hierin die finale woord sal spreek. Haar geduld word beloon – Boas vra Rut om sy vrou te word. 'n Seun is uit die huwelik gebore.
En Naomi, die vrou wat "Bitter" genoem wou word? "Naomi het die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem." (Rut 4:16). Haar buurvroue het die seuntjie 'n naam met betekenis gegee: Obed, wat beteken: "Dienaar of dienende voorvader van Jesus."
Jou bitter omstandighede kan steeds deur God omgekeer word in vreugde. Dalk het jy nodig om by ander mense in nood se lewens betrokke te raak sodat jy kan ervaar watter vreugde en beloning daarin lê om deel van God se voorsiening vir ander mense te word.
Gebed: Hemelse Vader, maak my oë oop sodat ek kan sien dat die mense wat die naaste aan my is, nodig het dat ek by hulle betrokke raak. Ek wil ook graag hoor: "Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou 'n losser gegee het." (Rut 4:14) Amen.