Louise Gevers 

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit."  Matteus 5:13
 
Wat maak 'n besoek aan die winkel om kruideniersware te gaan koop binne 'n oomblik die moeite werd? 'n Antwoord van een van die winkel se werknemers: "Dit gaan goed met my, deur die Here se genade." Die man wat my hierdie antwoord gegee het, het my gedagtes weggeneem van die gewoel in die winkel, my bekommernis oor pryse en items wat nie beskikbaar is nie, na 'n hoër lewensdoel. Ons almal knoop van tyd tot tyd geselsies aan met winkelassistente, maar hierdie opregte erkenning van die Here se genade vir sy welstand in hierdie tyd wat die pandemie oorheers, was 'n aangrypende bewys van dankbaarheid, nederigheid en tasbare geloof wat by ander aanklank kan vind.
 
Hierdie eienskappe is sekerlik van die tydlose geestelike waardes waarna Jesus in sy boeiende woorde in vandag se teksvers verwys. Die idee om "die sout van die aarde" te wees, is miskien nie die aantreklikste metafoor vir 'n kind se verstand wanneer hulle vir die eerste keer daarvan in Sondagskool leer nie, maar met volwassenheid word dit 'n kragtige illustrasie van waarheid wat die kern van wat ware volgelinge van Jesus moet wees, deeglik uitdruk. Dit bevat ook Jesus se waarskuwing dat ons moet volhard.
 
Sout is nie suiker nie. Suiker is soet op die tong, en dit word soms in sekere lekkernye baie geniet, maar dit kan verslawend wees en kan selfs 'n ineenstorting veroorsaak. As ons soos suiker is, sal ons soet, maar redelik swak wees, en heel moontlik gou uitbrand. Sout, daarenteen, is suiwer, sterk en blywend. Dit is 'n stof wat met respek hanteer moet word, want te veel het die krag om 'n maaltyd te ruȉneer of plantegroei te vernietig. Sout gee geur, dit suiwer en preserveer, soos biltongliefhebbers, aptekers en oumas (!) maar alte goed weet.
 
God beveel die Israeliete: "Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond met jou God; moenie dat dit in jou graanoffers ontbreek nie. Bied sout aan op al jou graanoffers. (Levitikus 2:13) Sout is ook gesien is iets baie belangrik in die lewens van die Israeliete en Joodse mistici was van mening dat in die wese van sout God medelye met geregtigheid gekombineer het. *(https://www.jtsa.edu/a-covenant-of-salt)
 
So, wanneer Jesus sê dat ons die sout van die aarde is, en dat “elkeen met vuur gesout [sal] word", (Markus 9:49, 2020-vertaling) wys Hy hoe belangrik die reuse taak is om soos ontelbare klein, tog kragtige, soutkorreltjies die wêreld te infiltreer om die wese van sy liefde, reinheid en krag te versprei. Ons kan dit slegs doen deur getrou te wees aan wie Hy ons geroep het om te wees, in die Wingerdstok te bly en soos Jesus vir almal te wees. (Lees: Johannes 15:3-5)
 
Gaan ons in hierdie tyd in Jesus se Naam die sout vir die aarde wees?
 
Gebed: "Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. (1 Konings 8:23) Gebruik my asseblief om u liefde en genade aan ander te bewys. Amen